Die MRK mag nie toelaat dat prof. Wim de Villiers sy aanbevelings oor taalgebruik by die Universiteit van Stellenbosch minag nie.
Indien hy weier moet daar kragdadig teen hom opgetree word deur die Gelykheidshof te vra om die aanbevelings af te dwing soos wat menige keer met ander gedoen is.
Die mees onlangse voorbeeld is waar die Gelykheidshof Steve Hofmeyr beveel het om skriftelik verskoning te vra aan die LGBTQI+-gemeenskap en om ’n boete van R100 000 te betaal in die vorm van ’n skenking aan ’n LGBTQI+-organisasie.
Die MRK het verlede week eindelik sy verslag uitgereik oor die gebeure in 2021 waar studente by die US verbied is om Afrikaans te praat, ook in private gesprekke in koshuise.
Van die aanbevelings in die MRK-verslag is dat die rektor en visekanselier se kantoor ‘n “skriftelike en openbare” verskoning moet uitreik aan die studente wat geraak is.
Daar moet ook skriftelik opdrag aan onder andere koshuisleiers gegee word om nie ’n enkeltaalbeleid soos slegs Engels in koshuise af te dwing nie en stappe moet geneem word om seker te maak dit gebeur nie weer nie.
Sover die VF Plus kan vasstel uit mediaberigte, is hierdie duidelike aanbevelings van verlede week tot dusver verontagsaam.
Prof. De Villiers het bloot in ’n verklaring hierdie week gesê hy is “op rekord” dat hy reeds aan almal wat geraak is, verskoning gevra het en dat die skriftelike opdrag aan koshuisleiers oor taalbeleid “reeds gedoen is”.
Die VF Plus is ook nie bewus van enige sodanige opdrag aan koshuisleiers nie en sou wou sien dat ook dit in die openbaar gepubliseer word.
Studente aan die US moes hulle tewens hierdie jaar opnuut na die MRK wend oor presies dieselfde verbod op Afrikaans as in 2021. Wat die US dus aan die probleem gedoen het, is onduidelik.
In ’n mediaberig gister oor die aangeleentheid (Netwerk24, 16 Maart 2023: “US oor MRK se aanbevelings: Baie is reeds gedoen”) ontken studente dat hulle van enige verskoning van prof. De Villiers bewus is.
Dit is onaanvaarbaar dat die US en prof. De Villiers direkte opdragte van die MRK op arrogante wyse ignoreer.
Iemand soos Penny Sparrow het in die tronk beland ná ’n ondersoek deur die MRK. Hofmeyr is gedwing om die MRK se opdragte uit te voer.
Die VF Plus dring daarop aan dat die MRK sonder enige verwyl opdrag gee aan die US en prof. De Villiers om skriftelike ’n openbare verskoning uit te reik soos wat vereis word.
Dit sou onaanvaarbaar wees om die US toe te laat om soos Julius Malema bloot sy rug op die MRK te draai terwyl daar hardhandig teen ander opgetree word.