fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Matlosana-begroting net ‘n klomp syfers sonder veel om die lyf

"Die ANC-beheerde munisipaliteit van Matlosana (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) weier steeds om te erken dat die agteruitgang en finansiële verknorsing van die stad die ANC-bestuur en -leierskap se eie maaksel is deur korrupsie, wanbestuur, onreëlmatige besteding en ‘n algemene onvermoë om ‘n begroting te bestuur en te implementeer," sê Erns Kleynhans, VF Plus-raadslid in Matlosana-munisipaliteit.

"Dit het duidelik geblyk in die bespreking van die stad se begroting en die groot uitdagings daaraan verbonde. Die skuld vir mislukking word op alles gepak behalwe op die ANC se eie onvermoë.

"‘n Voorvereiste vir ‘n implementeerbare begroting is fiskale logika, asook die dryf- en wilskrag van ‘n bestuur om die begroting in realiteit te verander. Selfs die assessering vanaf die provinsiale regering wys daarop dat die begroting veel te wense oorlaat.

"Wanneer daar gekyk word na tendense in die begroting die afgelope jare, is dit duidelik dat inkomste oorskat, en uitgawes onderskat word. Dit is ‘n resep vir mislukking.

"Eindelik speel die onvermoë om behoorlik te begroot, sowel as die onsuksesvolle uitvoering van die begroting ‘n groot rol in die agteruitgang van Matlosana. Die burgemeester se swak uitvoering en onverantwoordelike werkswyse gaan die stad se reeds kommerwekkende toestand net vererger.

"Dit is onaanvaarbaar en onvolhoubaar dat net ‘n klein groep inwoners wat wel hul munisipale rekeninge betaal, die nie-betalers moet subsidieer. Dit sluit in kragdiefstal deur onwettige konneksies en vermorsing weens die swak onderhoud van infrastruktuur.

"Dit is ook hartseer dat korting op eiendomsbelasting vir pensionarisse nie veel verligting bring nie. Die VF Plus het dit bespreek in die begroting en sal voortgaan om ‘n groter korting te bepleit," sê Kleynhans.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.