"Die DA-beheerde munisipaliteit van Stellenbosch ignoreer die ernstige wetteloosheid en diefstal wat sakelui teister in Tenantville, ‘n industriële gebied in Stellenbosch. Na vele klagte voel sakelui daar word feitlik niks gedoen om sake-ondernemings by te staan nie," sê Jaco Prins, VF Plus-organiseerder in die Wes-Kaap.
Prins sê selfs sekuriteitskameras op ‘n hoogte van vyf meter hoog word binne straatblokke van ‘n polisiekantoor in dié gebied gesteel. Sekuriteitshekke word met geweld uit mure geruk en gesteel.
Een sakeman het reeds verskeie klagte van inbraak gelê terwyl die polisiekantoor sowat honderd meter van sy fabriek af is. Hy wag nog op reaksie.
Sakelui het ook verskeie klagte aan die verkeersdepartement gestuur oor die gevaarlike verkeersituasie, minagting van padreëls en in baie gevalle die afwesigheid van verkeerstekens. Tot dusver sonder sukses.
"Daar is feitlik geen geverfde padtekens of strepe op die pad nie en staal-dreindeksels word gesteel. ‘n Informele nedersetting is tans besig om die industriële area binne te dring. Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die verval onomkeerbaar sal raak indien daar nie vinnig opgetree word om die gebied reg te ruk nie.
"Hierdie ondernemings dra by tot die dorp se belastingpoel, werkskepping en die ekonomiese groei van Stellenbosch. Hulle sorg sodoende finansiëel vir die munisipaltieit terwyl hulle self nie beskerming geniet teen misdaad nie. Die situasie in onaanvaarbaar.
"By navraag het die plaaslike wykraadslid, Rozette du Toit, gesê die owerhede is bewus van die situasie en die misdaad en dat oplossings vir verkeersprobleme oorweeg word. Volgens die polisie se plaaslike stasiebevelvoerder, kolonel Merkeur, is hy nie bewus van enige huidige klagte in die verband nie.
"Die VF Plus staan aan die kant van sakelui en glo dat diegene wat bydra tot die ekonomie, die reg het om in ‘n veilige omgewing hulle besighede te bedryf," sê Prins.