fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Munisipale amptenare in Gauteng gaan donker toekoms tegemoet – dienslewering gaan verder verswak

"Munisipale amptenare in Gauteng waar die ANC munisipaliteite regeer, gaan ‘n donker toekoms tegemoet. Die VF Plus meen dit is net ‘n kwessie van tyd voordat verlede week se chaos, tydens die raadsvergadering van die Rand West-distriksmunisipaliteit, gaan oorspoel na ander munisipaliteite," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng

Amptenare het die burgemeester en raadslede agter slot en grendel gevange gehou omdat hulle salarisse nie uitbetaal is nie. Amptenare en raadslede, asook die burgemeester, het geen betaling ontvang nie omdat die munisipaliteit nie geld het nie. Die munisipaliteit het R77 miljoen in die mislukte VBS-bank belê.

Die VF Plus waarsku dat hierdie gebeure hom nou kort- kort gaan herhaal en dat dienslewering agterweë gaan bly. Indien amptenare staak weens die nie-betaling van salarisse, gaan geen dienslewering plaasvind nie.

Van Staden sê personeel van nooddienste soos die ambulans- en brandweerdiens gaan bloot nie reageer op noodoproepe nie.

"Dit gaan lewensbedreigend wees in verskeie situasies soos wanneer ‘n brand uitbreek of iemand dringend mediese hulp benodig.

"Die nie-betaling van salarisse beteken ook dat ‘n munisipaliteit nie die finansies het om enige ander dienste te kan lewer nie. Diensverskaffers sal nie kan betaal kan word nie en privaat-kontrakteurs sal nie aangestel kan word nie. Indien die situasie voortduur betekend dit alles sal eindelik tot ‘n  algehele stilstand kom wat ‘n totale ineenstorting van dienste sal veroorsaak.

"Die VF Plus voorspel dat dieselfde situasie hom binnekort ook gaan afspeel in Merafong City, Mogale City en Ekurhuleni indien die premier van Gauteng en sy regering nie dringend ingryp nie. Emfuleni-munisipaliteit het reeds in duie gestort en bevind homself in die intensiewe sorgeenheid.

"Amptenare en raadslede van hierdie munisipaliteite staan die kans om hul voertuie en huise te verloor weens wanbetaling vir iets waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie. Hierdie mense sal nie in staat wees om hul maandelikse skuld te kan betaal, water en ligte te betaal of kos te koop nie. Dit kan lei tot ‘n bose kringloop wat die ekonomie van Gauteng erg kan knou.

"Die premier van Gauteng, David Makhura, en LUR vir finansies, Barbara Creecy, moes dadelik ingespring en noodplanne van stapel gestuur het om te keer dat munisipaliteite in duie stort toe die VBS-debakel begin het.

"In stede daarvan het hulle gesloer en gedink die probleem sal verdwyn. Die LUR vir plaaslike regering in Gauteng, Uhuru Moiloa, sal moet begin verduidelik wat hy en sy departement gaan doen om Gauteng van ondergang te red.

"Die tyd het nou aangebreek vir kiesers om hul stem dik te maak teen die onbevoegde ANC-regering en met die volgende verkiesing vir ‘n party soos die VF Plus te stem wat as deel van ‘n veelparty-regering vir stabiliteit en ‘n verantwoordbare regering sal sorg," sê van Staden.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.