"In antwoord op vrae van die VF Plus oor onder meer wapens en plofstof wat gebruik word in transitorooftogte en rooftogte by sake-ondernemings en woonhuise, het Mpumalanga se LUR vir veiligheid en sekuriteit, Cynthia Tshabalala, erken dat ‘n groot aantal wapens by die polisie in dié provinsie verlore geraak het," sê Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier in Mpumalanga.
"Volgens Tshabalala het daar in die afgelope vier jaar 210 dienspistole, 8 outomatiese aanvalsgewere en 4 haelgewere van die polisie verlore geraak.
"Die VF Plus is baie bekommerd hieroor, aangesien van die wapens in die hande van misdadigers kan beland wat dit kan gebruik in plaasaanvalle en ander gewapende rooftogte."
"Die VF Plus sal verdere vrae stel rakende die stappe wat geneem is teen polisielede wat hul wapens verloor het, watter polisiekantore betrokke is en of enige van die vermiste wapens aan bogenoemde misdade gekoppel is," sê Weber.