Die Mangaung-metro-munisipaliteit se kwartaallikse begroting- en prestasieverslag is ‘n sprekende voorbeeld van hoe ‘n munisipaliteit nie regeer moet word nie.
Na die pas afgelope week se skokkende munisipale bestuursuitslae wat deur die Ouditeur-Generaal (OG) bekend gemaak is, dien hierdie verslag bloot as bevestiging dat die ANC nie daartoe in staat is om ‘n munisipaliteit te bestuur nie.
"Rooi ligte flikker op feitlik elke bladsy van die verslag vir die kwartaal tot 31 Maart 2019," sê Elizabeth Snyman-Van Deventer.
Dienste van buite-kontrakteurs beloop nagenoeg R200 miljoen en sluit in uitgekontrakteerde dienste, dienste van konsultante en ander kontrakteurs.
Snyman Van Deventer sê dit is uiters kommerwekkend dat die munisipaliteit so ‘n astronomiese bedrag op uitgekontrakteerde dienste bestee, terwyl daar vir die nuwe begrotingstydperk ongeveer R2 miljard vir salarisse begroot is, maar dienste word nie behoorlik gelewer nie.
Voorts beloop die oortydbetaling wat aan die munisipaliteit se eie werknemers betaal word, steeds sowat R143 miljoen vir die finansiële jaar, selfs nadat ‘n besluit geneem is dat oortyd beperk moet word.
"Die regerende ANC verontagsaam munisipale wetgewing deur die behoorlike funksionering van komitees van kardinale belang te kortwiek. Die finansieskomitee van die metro het gedurende die pas afgelope week eers vergader oor die kwartaalverslag, terwyl die verslag, sonder die insette van die komitee, reeds gedruk was vir die raadsvergadering vandag.
"Dit is ‘n blatante verontagsaming van die gesag en sleutelrol wat hierdie en ander munisipale komitees moet vertolk.
"Die metro sal nie van sy finansiële probleme herstel terwyl die bestuur en politieke leierskap van die munisipaliteit nie hul taak ernstig opneem nie. Die koffers van die munisipaliteit is leeg, daar is nie meer beweegruimte vir swak finansiële en algemene bestuur nie.
"Die inwoners van Mangaung lei daagliks onder die gevolge van die regerende ANC se algehele onbevoegdheid. As dit nie gestuit word nie sal die munisipaliteit ondergaan.
"‘n Magsbalans en verantwoordelike bestuur is nodig. Inwoners moet besef dat die mag in hulle hande lê om dit te bewerkstellig," sê Van Deventer.