fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

[KYK] VF Plus dien klag in teen Mafube-bestuur oor riool in Wilgerivier

Die VF Plus het 'n strafregtelike klag ingedien teen die munisipale bestuurder van die Mafube-plaaslike munisipaliteit en die res van sy munisipale bestuurspan oor die storting van rou riool in die Wilgerivier by Frankfort.

Die munisipaliteit, wat Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling bedien, se rioolwerke is buite werking weens grond en klippe in die riooldam en wanneer die aanleg wel funksioneer, is dit net vir ‘n kort rukkie.

Riool loop ook op verskeie ander plekke in die Wilgerivier. ‘n Kontrakteur is glo aangestel om die dam skoon te maak, maar in al hierdie tyd het hulle slegs ‘n hopie grond van sowat ‘n halwe meter hoog uitgehaal.

Die Wilgerivier, wat duisende mense en diere van water voorsien, loop na die Vaaldam, wat op sy beurt weer bykans die hele Gauteng van water voorsien.

Die Mafube-munisipaliteit is reeds sedert 2017 onder provinsiale administrasie, maar dit het onder provinsiale ingryping net verder agteruit gegaan.

Een van die ANC se groot dryfvere in elke begroting en verkiesingsveldtog is om die emmerstelsel uit te wis en toe te sien dat inwoners van veral informele nedersettings toegang het tot werkende rioolinfrastruktuur, soos spoeltoilette.

"Die ANC het ook in hierdie doel jammerlik misluk.  In Mafube het die inwoners nie toegang tot spoeltoilette nie en word selfs die emmerstelsel-diens nie meer gelewer nie," het Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat en premierskandidaat Vrydag gesê tydens 'n besoek aan die rivier buite Frankfort.

Van Niekerk het gesê die Grondwet bepaal dat elke burger die reg het tot ‘n omgewing wat nie skadelik is vir sy of haar gesondheid of welstand nie.  Hierdie blatante besoedeling is lynreg teen die bepalings van nie net die Grondwet nie, maar ook die wetgewing wat uiting gee aan die Grondwet, soos die Afvalbestuurswet en die Nasionale Waterwet.

"Dit is tyd dat munisipale bestuursamptenare die gevolge van die swak prestasie van munisipaliteite begin dra.  Dit is onaanvaarbaar dat munisipaliteite, veral op die platteland, toegelaat word om tot so ‘n mate te verval dat dit gesondheidsrisiko’s vir inwoners begin inhou.

"Die VF Plus sal deurentyd in die belang van die publiek terugslaan teen swak dienslewering en die menseregtevergrype van die ANC," het Van Niekerk gesê.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.