Die onlangse voorval toe 'n foutiewe klep by die Koeberg-kernkragsentrale afgeskakel is, bevestig die VF Plus se standpunte rondom die bedryf van, en oorsig oor kernkrag in Suid-Afrika.
Hoewel erken word dat kernkrag 'n belangrike bydrae kan lewer om koolstofneutrale energievoorsiening te bereik, lyk dit of die land veiliger is daarsonder.
Reeds in 2019 het die VF Plus gestel dat 'n kragvoorsiener wat nie eens die betreklik eenvoudige tegnologie van steenkoolkragstasies in stand kan hou nie, nie met tegnologie vertrou kan word waarvan die afval vir eeue gevaarlik is nie.
Berigte dat daar 'n uittog van kundige personeel is – nie net by Eskom in die algemeen nie, maar in die besonder by Koeberg, onderstreep hierdie waarskuwing.
Vroeër vanjaar was daar die omstredenheid rondom die verwydering van mnr. Peter Becker as lid van die beheerraad oor kernkrag.
Becker het die burgerlike gemeenskap verteenwoordig en is juis benoem op grond van sy skeptiese houding ten opsigte van dié tegnologie. Hy het as voorsitter van die Koeberg Alert Alliance die aandag getrek.
Hy is uitgesproke daaroor dat Suid-Afrika liefs nie kernkrag moet opwek nie, maar indien dit onvermydelik is, moet alles moontlik gedoen word om dit veilig te maak.
Die minister van minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe het Becker weens ‘n beweerde botsing van belange geskors en later permanent van die raad verwyder.
Die VF Plus het in daardie stadium aangedui dat hierdie stap die raad se vermoë tot deeglike oorsig verswak. Die beheerraad op kernkrag moet juis 'n ewewigtige weergawe van belange verteenwoordig.
Enkele weke gelede het die nuus gevolg dat tydelike bergplek vir Koeberg se moontlik radio-aktiewe stoomketels nie betyds voltooi is nie. Dit sou daar gehou word terwyl opknappingswerk by die kragsentrale gedoen word om sy leeftyd te verleng. Nou is dit die fiasko met 'n klep.
Tensy die instansies wat kernkrag moet opwek en reguleer met bevredigende planne vorendag kom, moet Suid-Afrika eerder sy ambisies om sulke gevaarlike tegnologie te bedryf, laat vaar.