fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Grandiose planne, maar basiese vervoer misluk

Die ANC-regering blink uit met die opstel van grandiose planne, maar wanneer dit by die uitvoering daarvan kom is die mislukkings skouspelagtig soos by openbare vervoer waar die private taxibedryf toenemend as vervoermiddel vir die massas gebruik word terwyl die land se treindienste tot stilstand knars.

"Prasa, wie se treindienste as primêre vervoermiddel moet dien vir die grootste deel van die land se  bevolking, is besig om te misluk en het in minder as tien jaar meer as die helfte van sy gebruikers verloor, het adv Anton Alberts tydens die debat op die wysiging van die Nasionale Landvervoerwet in die Nasionale Vergadering gesê. 

"Busdienste het in dié tyd nie noemenswaardig gegroei nie en dit is ironies dat die private taxibedryf grootliks tot die redding moes kom om die land se ekonomiese bloedvloei aan die gang te hou," sê Alberts.

Die Tweede Lesingdebat van die Wetsontwerp op Nasionale Landvervoer wat vandag in die parlement bespreek is, is ‘n aanpassing van bestaande wetgewing ten einde die bepalings van die Openbare Vervoerstrategie en Aksieplan van 2007 meer volledig te implementeer en nuwe ontluikende sake te behandel.

"Die toekoms gaan ons vinnig inhaal soos verskeie groot firmas eksperimenteer met nuwe vorme van vervoer"

 

"Die aanpassings is tegnies van aard met die verbruiker voorop gestel. Die waarde van enige wet lê egter in die uitvoering daarvan en ook in hierdie geval sal verskeie faktore bepalend wees.

"Ten eerste die bou van infrastruktuur om projekte soos die Gautrein en die nasionale  busvervoerstelsel te rugsteun, en sinvolle koördinasie tussen die rolspelers en onderskeie regeringsvlakke.

"Ten tweede die beskerming van vervoerverskaffers en passasiers deur behoorlike regulering en polisiëring. Te veel mense verloor hul lewe op treine.

"Derdens die balansering van regulasie aan die een kant en die beskerming van die vrye mark aan die ander kant ten einde meer werk te skep.

"Die effektiewe bestuur van alle vervoermiddele op 'n deursigtige en professionele wyse. In hierdie opsig moet baie gedoen word gegewe die agteruitgang van Prasa en die aantal pendelaars wat moed opgegee het met treinvervoer.

"Daar is ook kennis geneem van die gebrek aan ‘n raamwerk om toekomstige tegnologiese ontwikkelings te bestuur. Die toekoms gaan ons vinnig inhaal soos verskeie groot firmas eksperimenteer met nuwe vorme van vervoer.

"Uber het reeds ver gevorder met die skep van hommeltuie wat mense kan vervoer. Verskeie motorvervaardigers is ook besig om vlieënde motors te ontwikkel. Die implementering daarvan is dalk ‘n ent verder die toekoms in, maar intelligente selfbesturende motors is vandag ‘n realiteit. Dit vereis regulering vroeër eerder as later.

"Ons sal hierdie wetgewing waarskynlik gouer moet hersien as wat ons dink. Robotte is hier, en hulle is intelligent. Ons moet seker maak dat ons dié ontwikkelings met wysheid aanwend tot voordeel van alle gebruikers," het Alberts gesê.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.