Die gesprek om groter outonomie en seggenskap vir die Wes-Kaap in sy eie sake is dwingend en realisties en moet met erns en ‘n oop gemoed gevoer word.
Die VF Plus se LPW, mnr. Peter Marais, het om hierdie rede ‘n debat in die Wes-Kaapse wetgewer oor dié aangeleentheid aangevra.
Volgens mnr. Marais is sy pleidooi ‘n versoek om ‘politieke realisme’ waar mense met toekomsgerigtheid weg moet breek van ‘n oudmodiese konsep soos ‘n meerderheidsregering.
Die regering van Suid-Afrika was vir 28 jaar gegrond op 'n hibriede staatsvorm van 'n unie met federale eienskappe. Dit het misluk omdat bykans al die mag gesetel was in die sentrale regering waaraan die provinsies en plaaslike regerings totaal uitgelewer was.
Hierdie sentralisering van mag het tot ontoereikende dienslewering, magsvergrype en grootskaalse staatskaping en korrupsie gelei.
Die afhanklikheid van provinsies en plaaslike regerings aan Eskom as kragvoorsiener, soos die land se vernietigde spoorvervoerstelsel, is enkele van tientalle voorbeelde hiervan.
Misdadigers vrees nie meer die polisie of die strafregstelsel nie, daar is ernstige tekorte aan kundige polisiemanne en mediese personeel en honderde informele nedersettings spring soos paddastoele regoor die land op.
Dit alles skets ‘n onheilspellende prentjie van ‘n toenemend mislukte staat. Suid-Afrika bevind hom in ‘n ernstige verknorsing. Dit kan nie meer ontken word nie.
Nasionale beleid rakende werkskepping, grensbeheer, ordelike grondhervorming, onderwys, misdaad en die aanwending van die polisie, gesondheid, openbare vervoer en behuising het skouspelagtig misluk.
Regstellende aksie (RA) met kaderontplooiing wat kundigheid vervang het, het die land duur te staan gekom. Die alomteenwoordige verval getuig daarvan.
Die ANC het verander in ‘n klein, magtige groepie bevoorregtes wat politieke mag bloot as meganisme gebruik om hulself te bevoordeel en te verryk.
Indien die RET-faksie in die ANC boonop wel daarin sou slaag om die mag te gryp, sal hierdie reeds desperate situasie hand oor hand versleg.
Die vraag is waar dit provinsies, en in besonder die Wes-Kaap, sal laat. Dit is duidelik dat daar weggebreek moet word van totale sentrale oorheersing.
Indien die ANC nie oor twee jaar as regering verwyder word nie, kan die wydverspreide diensleweringsbetogings in die land soos in Julie verlede ‘n kantelpunt bereik wat al hoe moeiliker gestuit sal kan word.
Desperaatheid weens werkloosheid, armoede en misdaad bereik vinnig breekpunt.
Die mense van die Wes-Kaap kan verhinder dat so iets na hul provinsie oorspoel deur aan te dring op groter magte, bevoegdhede en selfbestuur en dit kan gedoen word deur Artikel 235 van die land se Grondwet.
Die VF Plus bepleit nie 'n totale "egskeiding" van die Wes-Kaap van die res van Suid-Afrika nie, maar eerder die nodige hervormings om meer magte af te wentel na provinsies en in besonder na die Wes-Kaap.
Dit is boonop nie ‘n versugting na die onmoontlike nie. Daar is vele suksesvolle voorbeelde hiervan soos in Nigerië, Indië, Tanzanië, die Soedan, Duitsland, Amerika, Switserland and België.
Dit is duidelik dat die huidige stelsel van samewerkende regering met die ANC in beheer Suid-Afrika en sy mense gefaal het.