fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Gesondheidsdienste in Suid-Afrika gaan daagliks agteruit

"Die siek mense van Suid-Afrika ly toenemend onder die land se gesondheidsdienste wat agteruit gaan. Die oplossing hiervoor lê nie in Kuba of die nasionale gesondheidversekeringsplan (NGV) nie.  Dit lê in ‘n regering wat vir sy mense omgee," sê Wouter Wessels, VF Plus parlementêre woordvoerder vir Gesondheid.

Wessels het tydens dié departement se begrotingsdebat in die parlement gesê provinsiale hospitale het lykshuise geword in stede van oorde vir herstel.

"Ongeag van die bekwaamheid van die minister is sy kollegas op provinsiale vlak besig om pasiënte se dood te veroorsaak.

"Die harde werk en toewyding van verpleegpersoneel in moeilike omstandighede is prysenswaardig, maar kan ongelukkig nie die situasie verander nie.

"Die agteruitgang is ook nie te wyte aan ontoereikende begrotings nie, maar aan menslike faktore: Wanadministrasie, korrupsie en plundering sonder enige optrede teen die skuldiges. Onbekwame hospitaalbestuurders word aangestel lynreg teen die voorskrifte van die departement sonder enige gevolge.

"’n Voorbeeld van die stukkende stelsel is van  ‘n sesjarige meisie wat enkele jare gelede naby Kroonstad ernstig verkrag is. Polisie het haar na ‘n nabygeleë hospitaal geneem waar personeel aan die kind ‘n pynpil gegee het en gesê het daar skeel niks met  haar nie.

"Die polisie kon sien dat sy erge pyn het, en het haar na die Bongani-hospitaal, sowat 80 km van daar, geneem. Daar het sy nood-sjirurgie ondergaan. Wat met haar gebeur het, gebeur daagliks weens onbekwame en onopgeleide personeel regoor die land.

"Hierbenewens is gesondheidsadministrasie ook nie oor die lot van pasiënte bekommerd nie, maar  oor hulself.

"Die oplossing lê nie in nasionale gesondheidversekering nie. ‘n Voorvereiste so ‘n universele gesondheidsorgskema is ‘n openbare gesondheidstelsel wat effektief funksioneer. Gesondheidversekering sal net ‘n verdere las op die gesondheidstelsel plaas en sal nie die situasie verbeter nie.

"Indien die probleme by provinsiale departemente nie aandag kry nie sal niks werk nie. Geld wat aangewend moet word vir die behandeling van pasiënte word gesteel. Net ‘n regering wat omgee kan die land se gesondheidsdiens weer regruk," Het Wessels gesê.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.