Die VF Plus Jeug se tweejaarlikse nasionale kongres het gister (2 November) in Bloemfontein plaasgevind. Dr Pieter Mulder, nasionale leier van die VF Plus het die kongres toegespreek oor nuwe strategieë en die aanpassing by nuwe omstandighede met betrekking tot die komende nasionale verkiesing.
Tydens die vergadering is Wouter Wessels, LPW in die Vrystaat, eenparig herverkies as die nasionale jeugleier van die party.
Wessels het die kongres toegelig oor die geweldige groei in jeuglede wat die VF Plus die afgelope drie maande beleef en oor die jeug se belangrike rol ten opsigte van volgende jaar se algemene verkiesing. Hy het ook sy misnoë met sekere politieke partye uitgespreek wat slegs vir kort termyn politieke gewin reeds gefaalde wetgewing, soos Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie ondersteun. Hy het bevestig dat die VF Plus die enigste party in die parlement is wat teen hierdie mislukte wette stem en gesê dat dit tyd geword het om terug te keer na meriete in plaas van rassistiese kwotas.
Dr Mulder het die jeug se belangrike taak ten opsigte van die toekoms van die VF Plus en van Suid-Afrika beaam en gesê dat die geskiedenis bewys dat jong leiers ‘n groot invloed het. Hy het onder andere na die twee vryheidsoorloë in Suid-Afrika se geskiedenis verwys. Genl. Piet Cronje was ‘n held tydens die eerste oorlog en was deurslaggewend ten opsigte van die oorwinnig oor Brittanje. Dieselfde generaal kon egter nie aanpas by die veranderende omstandighede tydens die tweede oorlog nie en nuwe jong leiers, soos genls. de la Rey en de Wet het vir sukses by veldslae, soos Magersfontein gesorg. Dit is dus nodig om by nuwe omstandighede aan te pas en strategies te werk te gaan.
Michal Groenewald, ‘n raadslid in Klerksdorp en provinsiale jeugleier van Noordwes is as onderleier herverkies.
Tammy Breedt, Rdl Awie Erasmus, Jean Kriek, Suné Lötter en Janneman Kotze is tot die dagbestuur verkies.
Wessels het die nuut verkose span gelukgewens en gesê dat dit ‘n sterk en bekwame dagbestuur is. Die VF Plus Jeug is positief oor die komende verkiesing en sal hard werk om die party uit te bou.