"Die VF Plus is nog steeds van mening dat die Suid-Afrikaanse regering stappe sal moet neem om Suid-Afrikaners teen die koronavirus te beskerm deur alle sportbyeenkomste tydelik te kanselleer en om die sluiting van die land se grense te oorweeg," sê Philip van Staden, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van gesondheid.
"Die volg nadat daar gister sowat 97 sportgeleenthede regoor die wêreld weens die vinnige verspreiding van die virus gekanselleer of uitgestel is. Verskeie lande het nou ook hul grense begin sluit soos in die jongste geval waar die Tsjeggiese Republiek buitelanders toegang tot die land verbied het en sy eie burgers en inwoners verbied het om oorsee te reis in ‘n poging om die virus te beperk.
"Suid-Afrika staan in hierdie stadium op 24 mense wat positief vir die virus getoets het en deur die ministerie van gesondheid en die betrokke departement bevestig is.
"Die VF Plus het reeds verlede Woensdag tydens ‘n komiteesitting van die portefeuljekomitee van gesondheid, asook verlede Donderdag, tydens die koronavirus-debat in die parlement daarop gewys dat die land se grense ooplê en daar nie voldoende beheer oor die daaglikse toestroming van mense oor Suid-Afrika se grense is nie.
"Suid-Afrika sal dringend die voorbeeld van ander moet begin volg om sy grense toe te maak en te beskerm."
"Die VF Plus stel dit weer baie duidelik dat hierdie nie ‘n maatreël is om teen enigiemand te diskrimineer nie, maar die land se burgers en kinders moet beskerm word. Wat die kansellering en uitstel van sportbyeenkomste aanbetref, is dit tans ‘n gegewe dat alle lande nou hierdie maatreëls in plek stel om die verspreiding van die virus te probeer bekamp en Suid-Afrika het geen keuse as om dit ook te doen nie.
"Die presidensie het die afgelope week aangekondig dat die kabinet môre in Pretoria oor die pandemie vergader en die VF Plus spreek die hoop uit dat die kabinet nou daadwerklike stappe sal neem oor hierdie twee kwessies.
"Die VF Plus het ook reeds ‘n afspraak gemaak met die minister van gesondheid, Zweli Mkhezi, om oor die aangeleenthede te praat," sê van Staden.