Die Gautengse regering sal aan die publiek moet verduidelik waarom bedrae van onderskeidelik R50 miljoen van die Wesrand-distriksmunisipaliteit (Randfontein, Westonaria) en die Merafong City-munisipaliteit (Carletonville, Fochville), ‘n totaal van R100 miljoen, by VBS-bank belê is.
‘n Verdoemende verslag is die afgelope naweek in die media bekend gemaak oor VBS wat onlangs deur die Reserwebank onder kuratorskap geplaas is omdat die bank nie aan die nodige likiditeitsvereistes voldoen nie.
Volgens mediaberigte het die bank se ineenstorting talle munisipaliteite lam gelê nadat die bank ‘n bedrag van R1.5 miljard aan munisipale fondse verloor het.
"Die VF Plus wil weet waarom die Merafong- en Wesrand-munisipaliteit juis geld by VBS belê het en wat die doel van hierdie beleggings was. Die provinsiale regering moes hierdie transaksies gekeer het," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in die Gauteng-wetgewer.
"Die bedrag van R100 miljoen kon aangewend gewees het om dienslewering en infrastruktuur in die twee sukkelende munisipaliteite op te gradeer in plaas van om dit te verloor weens swak beleggingsbesluite om VBS-bestuurslede se weelderige lewenstyl te finansier.
"Die Gautengse regering is reeds in die knyp met die departement van gesondheid wat finansieel in die knyp is asook die Emfuleni-munisipaliteit ( Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) wat deur Gauteng onder administrasie geplaas is.
"Gauteng sal dringend moet fondse afstaan aan Emfuleni en die departement van gesondheid. Die VF Plus kan nie insien hoe die provinsie hierdie bedrag beskikbaar sal kan stel om die Wesrand- en Merafong-munisipaliteit nou uit die knyp te help nie.
"Die VF Plus dring daarop aan dat die twee munisipaliteite sy raadsbesluite beskikbaar moet stel oor waarom die beleggings by VBS aangegaan is en indien dit nie deur die twee munisipale rade goedgekeur is nie, maar ‘n besluit van die onderskeie burgemeesters was, sal daar die nodige stappe teen die burgemeesters sowel as die hoof-finansiële beamptes van die onderskeie rade geneem moet word en hulle sal van bedrog aangekla moet word.
"Dit is hartverskeurend om te sien hoe daar met belastingbetalers se geld gemors word sonder om die nodige verantwoordelikheid daarvoor te neem. Die tyd het aangebreek om almal wat hierby betrokke is aan te kla en voor die hof te bring," sê van Staden.