‘n Regering wat goed omsien na die weerloses van ‘n land is ‘n goeie regering. In Suid-Afrika gebeur die teenoorgestelde en is die swakkes en siekes uitgelewer aan ‘n gevoellose ANC-regering op wie se wagbeurt ‘n groot aantal geestelik siek mense onlangs oorlede is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor gesondheid.
Adv. Alberts het vandag in die parlement in die debat oor dié aangeleentheid gesê die enigste wyse om hierop te reageer is om te vra hoeveel mense nog onnodig gaan sterf onder die heerskappy van die ANC?
Hy sê wat met dié geestelik siek pasiënte gebeur het – wat werklik die swakste van die swakkes verteenwoordig – is nie net tragies, maar 'n growwe skending van menswaardigheid en die heiligheid van die lewe en skyn ‘n lig op die donker siel van die ANC.
“Wat hierdeur blootgelê word, is dat ANC-regering en sy ontplooide kaders nie bloot nalatig in hul voorneme en aksies is nie, maar dat die ANC doelbewus afsydig staan teenoor menslike lyding terwyl hy voorgee om die hoë morele grond te beset.
“'n Mens sou weet wat om te verwag van mense soos Omar al-Basjir en Robert Mugabe wat bekend is vir hul skending van menseregte, maar die ANC aan die ander kant skep die valse illusie van hoop en menslikheid.
“Hoe slegter dit met die ANC gaan, hoe vinniger daal hy na goedkoop politieke opportunisme deur die speel van die rassekaart om aandag weg te lei van sy onverskilligheid.
“Hierdie onverskilligheid is deeglik weerspieël in sy onwilligheid om in die parlement erkenning te gee aan die pasiënte wat oorlede is. In die lewe is hulle in die steek gelaat, en in die dood het die regering besluit om hulle te ignoreer.
“Daar is talle voorbeelde van mense wat slagoffers is van dié houding van die ANC:
In Suid-Afrika gaan mense na staatshospitale om te sterf en nie om gesond te word nie, omdat hulle net blote nommers en skape op pad na die slagpale is;
In Suid-Afrika kom boere van die kerk af terug by die huis net om gemartel en soos skape keelaf gesny te word, want hulle het mos die grond gesteel;
In Suid-Afrika word vroue verkrag, want hulle is mos blote objekte;
In Suid-Afrika word kinders mishandel, want hoekom sou hulle dieselfde regte as volwassenes hê?;
In Suid-Afrika sterf soveel onskuldige mense op ons paaie, omdat die owerhede meer belangstel in geldinvordering as in padveiligheid;
In Suid-Afrika sterf heeltemal te veel mense terwyl ANC-kaders hul energie aanwend in pogings om hul sakke met belastinggeld te vul. Hoe lank gaan die gemeenskap dit nog duld?
“Hierdie slagting moet stop voordat die vernielde hond eendag omdraai en begin byt. Watter gevleuelde woorde en rassekaart gaan die ANC dan red?” vra adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403