fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Gauteng: Aanpassingsbegroting is vol waarskuwings en teenstrydighede, maar bied geen oplossings nie

"Die LUR vir finansies in Gauteng, Barbara Creecy, se aanpassingsbegroting vir 2018 wat vandag in die wetgewer ter tafel gelê is, is deurtrek van waarskuwings en teenstrydighede, maar bevat geen werkbare, oplosbare plan om Gauteng se munisipaliteite van algehele ondergang te red nie," sê {hilip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.

Die begroting is aangepas met slegs R1,9 miljard vanaf R121.4 miljard tot R123.2 miljard.  Die kantoor van die premier ontvang ‘n ekstra R128 miljoen waarvan R118 miljoen vir die vergoeding van die families van die Life Esidimeni-tragedie aangewend moet word.

Gesondheid ontvang ‘n verdere R284.3 miljoen wat gebruik moet word vir die opskerp van dienste, die Suid-Afrikaanse/Kubaanse-doktersprogram, vir agentskappe wat namens die departement pasiëntfooie by die padongelukkefonds invorder, huurkontrakte, masjinerie en toerusting asook meubels vir die nuwe kantoorgebou van die departement.

Die departement van onderwys ontvang ‘n verdere R438.2 miljoen vir die vergoeding van werknemers.

Die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ontvang R65 miljoen wat slegs ‘n bedrag van R20 miljoen insluit vir die diens van die pompstasies langs die Vaalrivier om die rioolvermorsing te stop en R10 miljoen word gebruik vir kiesersopleiding.

Menslike nedersettings ontvang R94.2 miljoen om aan munisipaliteite te betaal vir uitstaande eiendomsbelasting op RDP-huise (is dit nie HOP-huise in Afrikaans nie?).

Van Staden sê die ander departemente se verdere toekennings is nie eers die moeite werd om kommentaar op te lewer nie.

Die LUR het gewaarsku oor die krisis in Emfuleni, die Wesrand-distriksmunisipaliteit, maar kon nie haalbare en werkbare planne aankondig om hierdie munisipaliteite van algehele ondergang te red nie.

Die LUR het gesê dat ‘n span van die nasionale- en provinsiale tesourie en Cogta hoëvlak-ondersoeke geloods het rondom munisipaliteite se finansies. Creecy het, soos aan die begin van die jaar, net weer aangedui dat forensiese ondersoeke geloods is aangaande die Merafong- en Wesrand-distriksmunisipaliteite se VBS-beleggings en dat ‘n verslag moontlik aan die einde van November beskikbaar sal wees. Sy het nie aangedui watter optredes teen die burgemeesters en munisipale bestuurders van hierdie munisipaliteite gedoen gaan word vir die onverantwoordelike en onwettige beleggings nie.

"Die VF Plus is van mening dat die LUR se aankondiging tydens die 2017-begroting, dat goeie regering, die uitroei van korrupsie, werkskepping, die herinstelling van planne om die finansies van die provinsie weer gesond te kry, glad nie geslaag het nie.

"Slegs 14 500 nuwe werksgeleenthede is in die provinsie geskep sedert 2014/15, maar vandag was die LUR nogal trots om hierdie tragedie aan te kondig.  Met die aantal mense wat al hoe meer in Gauteng werkloosheid in die gesig staar, sien die VF Plus dit glad nie as ‘n prestasie nie.

"Sy het voorts gemeld dat die provinsie 420 000 werksgeleenthede geskep het sedert 2014 met die Tshepo 1 Miljoen-Projek. Dit wil voorkom asof die ANC-regering besig is om na strooihalms te gryp om te keer dat hy die provinsie in die 2019-verkiesing gaan verloor.

"Teenstrydighede het ook vandag na vore getree. Die LUR het aangekondig dat dertig nuwe skole sedert 2014 in Gauteng gebou is wat die verwarring rondom die werklike syfers verder vergroot. Die VF Plus het verlede Maandag gesê ‘n onafhanklike oudit sal gedoen moet word om die verwarring op te klaar en om die werklike syfer van die aantal skole te bepaal.

"Die VF Plus het vroeër vanjaar die 2018/19 begroting in sy geheel verwerp en verwerp ook hierdie aanpassingsbegroting wat vandag ter tafel gelê is. Die begroting in sy geheel bied geen aanduiding hoe sukkelende munisipaliteite van algehele ondergang gered gaan word om te verseker dat dienslewering aan belastingbetalers nie tot stilstand kom nie.

"Die enigste uitweg is om die ANC uit die kussings te lig en ‘n bekwame veelparty-regering in plek te stel wat inwoners se belange eerste stel. Kiesers moet hulle stem dik maak by die stembus en saam met die VF Plus terugslaan teen swak dienslewering," sê Van Staden.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.