"Harde feite en stawende getuienis sal die oordeel moet fel oor die geskiktheid van die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane," sê dr. Corné Mulder, VF Plus-LP en parlementêre hoofsweep.
"Dit is die mening wat die VF Plus vandag gegee het met die aanvang van die parlementêre Artikel 194-ondersoekkomitee van 36 lede oor die bevoegdheid van Mkhwebane om ’n openbare amp te beklee.
"Mnr. Richard Dyantyi, parlementslid van die ANC, is die voorsitter.
"Die OB mag slegs uit haar amp verwyder word op gronde van wangedrag, ongeskiktheid en onbevoegdheid en dit is belangrik dat die harde bewyse en feite die deurslag in die besluite hieroor moet gee."
"Mkhwebane moet ’n regverdige geleentheid kry om haar kant van die saak te stel en die proses moet billik en regverdig wees.
"Die kantoor van die OB speel ’n rol van kritieke belang om die publiek te beskerm teen ongerymdhede van die owerheid en dit is belangrik dat dié kantoor met kundigheid en integriteit bestuur word en die publiek se vertroue moet hê.
"Die VF Plus sal sy deel bydra in die ondersoek om toe te sien dat die ondersoekproses tot ’n regverdige besluit kom in belang van almal in Suid-Afrika," sê Mulder.