"Stem vir die enigste party wat Metsimaholo se belange dra en nie bereid is om sy beginsels en beleid prys te gee ter wille van politieke gewin nie," sê Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat in aanloop tot die verkiesing in Metsimaholo (Sasolburg, Oranjeville en Deneysville). Inwoners kry Woensdag die geleentheid om in 'n historiese verkiesing werklike verandering in die munisipaliteit te bewerkstelling.
Meningspeilings toon tans dat die VF Plus geweldige steun geniet en kan wen in verskeie wyke in die munisipaliteit.
"Die VF Plus het bewys dat ons beginsels ononderhandelbaar is en dat ons beleid standvastig is. Die VF Plus beleef tans geweldige groei en verteenwoordig ons kiesers suksesvol in menige koalisieregerings, in onder andere Pretoria, Johannesburg, Nylstroom, ens. Ons skroom nie om vir ons kiesers se regte op te staan en veral vir die belastingbetaler se belange te veg nie. Hierdie munisipaliteit verdien 'n nuwe begin en ons sal nie skroom om aan te hou veg vir die regte van ons inwoners om beter dienste nie.
"Die VF Plus se toenemende teenwoordigheid in Metsimaholo bewys dat inwoners kandidate verkies wat bevoeg is en waarlik 'n verskil in die munisipaliteit sal maak. Ons ideale van 'n effektiewe en regverdige munisipaliteit wat werk vir sy inwoners kan 'n werklikheid word wanneer kiesers ons die geleentheid gee om namens hulle in die raad en in 'n koalisieregering op te tree.
"Die voordeel van 'n koalisieregering, oftewel 'n veelpartyregering, is dat daar magsbalans is en dat geen enkele party slegs kan doen net wat hy wil nie. Dit voorkom korrupsie, wanbesteding en verkeerde prioriteite," sê Van Niekerk.
Van Niekerk sê die VF Plus se agtpunt-plan vir Metsimaholo is 'n werkbare beleid tot voordeel van kiesers en nie vir 'n politieke elite of die beskerming van politieke magsbasisse wat onstabiliteit in die raad kan veroorsaak nie.
Die VF Plus se plan vir Metsimaholo behels:
1. Om aanstellings van amptenare, wat nie op meriete gedoen is nie, te keer sodat die mees gesikte persoon vir die werk aangestel word – ongeag velkleur. Hierdeur verbind die VF Plus hom ook tot die uitwissing van rassediskriminasie in die munisipaliteit en fokus so op ‘n beter toekoms vir almal. Die VF Plus sal ook ‘n onmiddellike moratorium plaas op Regstellende Aksie-aanstellings, waar skaars vaardighede en poste wat vir langer as 90 dae vakant is.
2. Die desentralisering van die plaaslike regering sodat mag afwentel na so na as moontlik aan die gemeenskap van al die dorpe – Sasolburg, Oranjeville en Deneysville.
3. Om diversiteit in die munisipaliteit te koester en te respekteer diversiteit deur die onnodige verandering van plek- en
straatname te stop en veeltaligheid in raadsvergaderings te bevorder.
4. Billike belastings en tariewe te hef en onbillike verhogings te stop. Die VF Plus sal die begroting van Metsimaholo regverdig aanwend om dienslewering in al die dorpe te verseker.
5. Die vestiging van 'n gunstige omgewing vir die privaatsektor om ekonomiese groei te stimuleer en volhoubare werksgeleenthede te skep, veral deur die implementering van vryhandel-sones.
6. Die bevordering van goeie morele waardes.
7. 'n Magsbalans binne 'n veelpartyregering wat veg vir die regte van VF Plus-kiesers binne sodanige regering. Sodoende keer die VF Plus 'n eenpartyregering wat mag misbruik en nie die behoeftes van alle gemeenskappe in Metsimaholo inagneem nie. Dit behels ook dat die ANC en EFF nie mag in Metsimaholo mag kry nie.
8. Tree as effektiewe waghonde ten opsigte van wanbestuur, korrupsie, onbevoegdheid, ens. op.
"Die toekoms van Metsimaholo is nou in die hande van die kieser. Elke stem tel en kan die VF Plus se mag versterk om die gemeenskap effektief te dien," sê Van Niekerk.