Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Departement vir vroue, kinders en persone met gestremdhede dui reeds op die probleme in Suid-Afrika se samelewing

"’n Departement vir vroue, kinders en persone met gestremdhede dui reeds op die diepliggende probleme in Suid-Afrika se samelewing. In ‘n samelewing met waarlik gelyke geleenthede vir almal in die private en openbare sektore, sou só ‘n departement oorbodig wees," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van vroue, kinders en persone met gestremdhede.

"Dít moet die mikpunt in Suid-Afrika wees. Die realiteit is egter dat geslagsgeweld hoogty vier, die nasionale jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) is nutteloos en persone met gestremdhede word steeds behandel asof hulle melaats is.

"Nou is die departement se begroting boonop verklein terwyl sy uitdagings al hoe groter raak. Selfs met aangepaste mikpunte en prioriteite lyk die toekoms somber. Wanneer die politieke wil ontbreek, is ‘n saak verlore.

 

"Geslagsgeweld word baie bespreek. President Cyril Ramaphosa het dit tien maande gelede selfs tot nasionale prioriteit verklaar. Miljarde rand is daarvoor begroot en menige komitees saamgestel, maar daar is niks daarvoor te wys nie."

 

 

"Daar word ook veels te min gedoen om persone met gestremdhede as ware burgers van Suid-Afrika te betrek by die samelewing en met ‘n verdere besnoeiing van R27 miljoen aan die departement se begroting, kan die situasie net verder verswak.

"Alhoewel die departement van basiese onderwys in 2015 reeds gebaretaal as ‘n eerste taal-vak goedgekeur het en die eerste matrieks reeds in 2018 met gebaretaal as ‘n vak matrikuleer het, is daar steeds nie genoeg wat gedoen word om die dowe gemeenskap by te staan nie.

"Die besluit om handboeke voortaan in braille beskikbaar te stel, is wel positief. Nou met die parlement net werk maak van ‘n besluit wat al in 2016 geneem is om gebaretaal tot die land se twaalfde amptelike taal te verklaar.

 

"Daar is sowat 4 miljoen dowe mense in Suid-Afrika en dit sou ‘n onreg wees om niks hieraan te doen nie."

 

"Die minister van arbeid wil met die nuwe billike indiensnemingswetswysigings nuwe sektorspesifieke teikens, met ander woorde kwotas, vir vroue en persone met gestremdhede afdwing. Kwotas is ‘n kosmetiese poging om ‘n onreg reg te stel en sal nie aan gesindhede verander nie.

"Doelgerigte optrede om persone met gestremdhede deel van die samelewing te laat voel, is nodig. Die VF Plus vra daarom dat ware gelykheid bevorder word en nie geslag- en ander kwotas nie. Kwotas is ten beste teenproduktief," sê Breedt.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.