"Om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei, is infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding nodig om ‘n gunstige omgewing vir die privaatsektor te skep vir werkskepping en beleggings. Hierin speel die departement van vervoer ‘n kardinale rol," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van vervoer.
"Soos die land se vervoerinfrastruktuur tans lyk, gaan die nodige ekonomiese stimulering nie realiseer wanneer die inperking beëindig word nie.
"Die departement se noodbegroting is geprioritiseer om slegs in die korttermyn-behoeftes weens die Covid-19-pandemie te voorsien. Dit is maatskaplik gerig en nie op langtermyn volhoubare groei nie.
"Die departement se jaarlikse prestasieplan wys dat die departement nie blind is vir sy uitdagings nie. Dit wys egter ook die departement het self nie sy plan gelees voordat die nuwe aangepaste begroting opgestel is nie.
"'n Ernstige bron tot kommer wat niks goed vir die toekoms voorspel na Covid-19 nie, is die R2,6 miljard minder wat aan die padvervoerprogram toegeken is. Provinsiale toelae vir padonderhoud word ook met R1,8 miljard verminder."
"Daar bestaan reeds ‘n agterstand in die instandhouding van provinsiale paaie weens Covid-19. Hierdie vermindering in toekennings gaan ‘n geweldige invloed hê op die land se vermoë om ekonomies te herstel.
"Volgens die departement is verkeersveiligheid een van die dringendste kwessies waarmee die moderne samelewing wêreldwyd en veral binne die Suid-Afrikaanse konteks mee te kampe het. Teen 2030 sal verkeersongelukke na verwagting die vyfde grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd wees en Vigs en TB in dié opsig verbysteek.
"In 2014 is sowat 23.5 mense per 100 000 in motorongelukke dood. Dit is gemiddeld 45 per dag. Alkohol is onlangs vir die tweede keer verbied omdat hospitale se noodgevalle onnodig oorstroom word deur alkoholverwante beserings. Indien 45 mense per dag op die land se paaie sterf, moet daar sekerlik in padvervoer- en veiligheidsprogramme belê word.
"Die besnoeiing van R1 miljard elk op openbare vervoer en die spoorweë is uiters onverantwoordelik in ag genome die huidige klimaatskrisis en aardverwarming."
"Die fokus moet wees op ‘n veilige en betroubare openbare vervoerstelsel om pendelaars en die vervoer van grootmaatgoedere aan te moedig om van die diens gebruik te maak en om die wêreld se koolstofvoetspoor te verklein.
"Die departement van vervoer is ‘n baie belangrike departement, maar sonder die nodige politieke wil en korrekte prioritisering, gaan hierdie departement net nog ‘n slaggat in die pad van Suid-Afrika se verval wees," sê Breedt.