Die VF Plus verwelkom die ontbinding van die raad van die kragvoorsiener Centlec in Mangaung aangesien Centlec, onder die voorsitterskap van die omstrede Dudu Myeni, wat die SAL in die grond in bestuur het, nou dieselfde met dié kragvoorsiener gedoen het.
Volgens Manguang se uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, het Centlec die afgelope vier jaar – sedert 2014 – geen algemene jaarvergadering gehou nie.
"Dit versterk die vermoede dat iets van die publiek weggesteek word en dat Centlec nie antwoorde het op vrae oor die toestand van die metro se elektrisiteitsvoorsiening nie," sê Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid in Mangaung (Bloemfontein)
Sy sê dit is veral kommerwekkend dat die die burgemeester nie die raad ingelig het oor situasie by Centlec en die ontbinding van die raad nie.
"Die VF Plus sal in die metroraad daarop aandring dat die proses om ‘n nuwe Centlec-raad aan te wys, meer deursigtig sal wees. Kandidate moet op grond van bekwaamheid aangewys word. Centlec sal net effektief kan funksioneer indien aanstellings op meriete gedoen word en nie deur interne ANC-kader-ontplooiings nie.
"Centlec bly een van die ANC se grootste mislukte projekte. Die bedenklike aanstelling van Myeni as voorsitter van die Centlec-raad wys dat die ANC die effektiewe bestuur van die elektrisiteitsvoorsiener nie hoog op die agenda geplaas het nie. Myeni se power bestuursekord is ook nou in Centlec sigbaar.
"Die elektrisiteitsverskaffer sukkel om kop bo water te hou met basiese finansiële bestuur en instandhouding van elektrisiteitsnetwerke. Hy sukkel om sy geld van debiteure in te vorder en kan ook nie die mas opkom met kapitaalbesteding nie. Slegs 32% van sy kapitaalbegroting is in die vorige boekjaar hieraan bestee.
"Vuisvoos-inwoners van Mangaung verdien ‘n metroraad en entiteite wat effektiewe bestuur toepas om kritieke dienste te lewer," sê Snyman-Van Deventer.