"Rioolbesoedeling by die plaaslike munisipaliteit Moqhaka (Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein, Viljoenskroon) in die Vrystaat het so erg geraak dat die gedenkwaardige plaaslike Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp in Kroonstad en in besonder die begraafplaasgedeelte daarvan, onder riool wegsink," sê Heloïse Denner, VF Plus-LP.
"Daarbenewens word die Valsrivier uitermate besoedel met rioolwater wat vir 'n aantal jare ongestoord in die rivier vloei. Hierdie rivier voorsien nie net die dorpe wat deur die munisipaliteit bedien word van drinkwater vir mens en dier nie, maar vloei ook in die Vaalrivier, waar dit 'n veel groter waterbron besoedel.
"Die munisipaliteit het onlangs 'n plaaslike toiletpapierfabriek oënskynlik toegelaat om die rioolstelsel in dié gebied totaal te laat verstop. Dit dra grootliks by tot die besoedelingsprobleem.
"Die plaaslike Anglo-Boereoorlog-konsentrasiekamp – 'n nasionale erfenisterrein – is heeltemal bedek met afval wat veroorsaak word deur hierdie fabriek . Dit skep 'n onaanvaarbare situasie."
"Die VF Plus het strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder van die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit ingedien vir die oortreding van die toepaslike voorskrifte van die Wet op Omgewingsbestuur en doen ‘n beroep op die minister en die departement van water en sanitasie om die oortreding van wetgewing in dié verband te prioritiseer.
"Die besoedeling van Suid-Afrika se waterbronne, wat reeds onder geweldige druk verkeer, kan nie onbepaald en straffeloos voortgaan nie. Dit is ‘n kriminele daad en diegene wat verantwoordelik is, moet aanspreeklik gehou word," sê Denner.