11/24/2017 8:52:36 AM
Johannesburg oorweeg die skepping van belastingvriendelike sones om ekonomiese groei aan te wakker.
Franco de Lange, VF Plus-raadslid en voorsitter van die Artikel 79-komitee vir ekonomiese ontwikkeling vir die stad, sê dié konsep word internasionaal met groot sukses toegepas om ekonomie te stimuleer wat ook tot voordeel sal strek van omliggende sake-ondernemings.
"Dit is ‘n goeie metode om plaaslike en selfs oorsese beleggers te lok." – Franco de Lange, VF Plus-raadslid
Volgens De Lange het die oorsigkomitee vir ekonomiese ontwikkeling die afgelope maande ‘n aantal mikro-ekonomiese- en informele sakegebiede besoek waar groot groeipotensiaal en gepaardgaande werkskeppingsmoontlikhede is.
“Deur die komitee se betrokkenheid by klein-, medium- en mikro-ondernemings het dit duidelik geraak dat ‘n nuwe strategie ontwikkel moet word om die proses te fasiliteer met die doel om gebiede met industrieë te identifiseer wat hiervoor geskik is.
“Die stad se eiendomsportefeulje word tans bestuur deur Joburg Property Company. Na ‘n ouditproses van vyf jaar en jare se onderbefondsing en verwaarlosing deur die vorige (ANC)-regering, is ons nou gereed om met ‘n proses van hersonering te begin om gereed te wees vir beleggings in behuisings- en kommersiële projekte.
“Die departement van ekonomiese ontwikkeling, in samewerking met munisipale departemente en die burgemeester se kantoor, werk tans aan ‘n nuwe ekonomiese strategie vir die stad en hierdie nuwe en behoorlik befondsde plan, sal vroeg aanstaande jaar in werking gestel word.
“Die VF Plus in Johannesburg, wat deel is van die plaaslike regering, is verbind tot die ekonomiese groei van die stad en die gepaardgaande skepping van werksgeleenthede,” sê De Lange.