Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het die minister van water en sanitasie, Gigile Nkwinti, versoek om op te tree in die voortslepende waterkrisis wat inwoners van Brandfort in die Masolinyana-munisipaliteit teister.
Die VF Plus se parlementêre woordvoerder, adv. Anton Alberts, het Nkwinti amptelik versoek om leiding te gee in Masilonya, waar die Brandfort-waterwerke gereëld probleme met pompe ondervind.
Die VF Plus het ook Sondag daarin geslaag om, met leiding aan die Munisipale Bestuurder van die munisipaliteit en drie plaaslike elektrisiëns, water beskikbaar te stel aan inwoners van Brandfort wat teen Sondag vir 30 dae geen water gehad het nie.
Die waterprobleem sloer voort te midde van talle politieke partye se skielike belangstelling in Brandfort waar gedenksdienste vir Winnie Madikezela Mandela verlede week gehou is, maar geen daadwerklike stappe geneem is om op inwoners van Brandfort se reg op water aan te dring nie.
"Selfs die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, kon Dinsdag tydens ‘n openbare vergadering nie daarin slaag om daadwerklike antwoorde aan die gemeenskap van Majwe Masweu te gee oor wat die Vrystaatse regering doen om die probleem op te los nie," sê Koos Pienaar, VF Plus-raadslid in Masilonyana (Winburg, Theunissen, Brandfort)
"Ntombela het egter nie aan die inwoners verduidelik dat die voormoalige ANC-administrasie van Masilonyana ‘n konsultrenede ingeneur aangestel het om sertifikate vir die geînstalleerde waterpompe uit te reik en die nodige opleiding te verskaf nie.
"Sover bekend kan die konsulterende ingeneur nie opgespoor word om die bykomende dienste te verskaf nie.
"Tans word daar van elektrisiënsdienste in Bloemfontein gebruik gemaak wat op hulle beurt plaaslike elektrisiëns in Brandfort aanstel, maar nie betaal word nie weens wanbetaling deur Masilonyana.
"Met hierdie bose kringloop van swak munisipale bestuur van die vorige ANC-bestuur lei Brandfort nou sosio-ekonomies waar skole, besighede, gesondheidsdienste en inwoners van die reg op water ontneem word.
"Die onlangse protes en gepaargaande geweld in die dorp kon voorkom gewees het as die ANC minder ras-retoriek gepraat, en meer dienslewering verseker het.
"Brandfort behoort vir die res van Suid-Afrika as ‘n voorbeeld te dien van hoe swak munisipale bestuur uiteindelik tot ‘n “Dag Zero-Dienste” vir talle munisipaliteite regoor die land gaan lei.
"Met leiding deur die nasionale departement van water en sanitasie kan die huidige amptenare die nodige opleiding en leiding kry om komende waterkrissise af te weer," sê Pienaar.


