"Dit is jammer dat die SAUK se onvermoë om die Wêreldbeker-rugbytoernooi uit te saai, miljoene Suid-Afrikaners die geleentheid gaan ontneem om te deel in die euforie en samehorigheid wat die toernooi vir almal in die land bring," sê Heloïse Jordaan, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van sport.
"Die departement van sport, kuns en kultuur se mandaat is om nasiebou en sosiale kohesie te bevorder. Die Wêreldbeker is die ideale geleentheid om dit te doen."
"Dit is daarom betreurenswaardig dat die SAUK nie die ekstra myl stap om in vennootskap met die regering en die uitsaaier van die skouspel tog, soos met Absa se sokkerpremierliga-reeks, planne te beraam om die uitsending wel moontlik te maak ook op die SAUK se kanale nie. Al is dit net die wedstryde waarin in Suid-Afrika betrokke is.
"In die geval van die uitsaairegte vir die sokkerreeks, het minister Nathi Mthethwa (sport, kuns en kultuur) ‘n leidende rol gespeel om die uitsaai van die wedstryde moontlik te maak.
"Die VF Plus sê die regering behoort sy mandaat na te kom en moet toesien dat die nasionale uitsaaier, op wie ‘n verpligting rus om geleenthede van nasionale belang uit te saai, dit wel doen," sê Jordaan.