Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Halfjaarlikse begrotingsverslag van JB Marks bevestig VF Plus se waarskuwings oor aanvaarding van ‘n onbefondsde begroting in 2022

Die VF Plus het tydens die 2022-begrotingsproses van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), verskeie onreëlmatighede uitgewys en daarop gewys dat die begroting onbefonds sou wees.

Die party het ook die spesifieke risiko’s daarvan vir die munisipaliteit uitgewys.

Die VF Plus se standpunt is destyds deur Noordwes se provinsiale tesourie beaam.

Die munisipaliteit het vandag ‘n halfjaarlikse bestedingsverslag- en aansuiweringsbegroting in die munisipale raad ter tafel gelê vir goedkeuring.

In die voorlegging is die VF Plus se voorspellings bewaarheid met onder meer ‘n begrote groei van ‘n positiewe kontantvloei van R23 miljoen, wat toe gerealiseer het met ‘n daling van R130 miljoen, soos bereken teen die einde van Desember.

Van ‘n beoogde besteding van R150 miljoen se munisipale fondse aan verbeterings vir die finansiële jaar tot dusver, kon net R46 miljoen bestee word weens ‘n gebrek aan kontantvloei.

Die VF Plus het in die raad beklemtoon dat dienslewering in Potchefstroom en Ventersdorp steeds agteruitgaan onder die leiding van die ANC-beheerde munisipaliteit.

Hierdie situasie word ook belig deur die feit dat daar tot op hede slegs 21% van die beskikbare fondse van die regering se voorwaardelike toelae vir die opgradering en herstel van munisipale infrastruktuur bestee is.

Die VF Plus het versoek dat die aansuiweringsbegroting terugverwys word en aangepas word met realistiese syfers vir goedkeuring deur die raad teen einde Februarie.

Die agteruitgang in dienslewering en die verval van infrastruktuur in Potchefstroom en Ventersdorp bewys weer dat die ANC geensins in staat is om behoorlik op enige regeringsvlak te regeer nie.

Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.