Die ANC in die Setsoto-plaaslike munisipaliteit (Ficksburg, Senekal, Marquard, Clocolan) het vandag opnuut bewys dat hy nie van mense in sy eie geledere ontslae sal raak waar dit tot voordeel van inwoners kan wees nie.
Tydens vandag se raadsvergadering is die VF Plus se voorstel aanvaar om per geheime stem oor die mosie van wantroue in die burgemeester, Komane Koalane, te stem. Raadslede oor partygrense heen het dus die geleentheid gehad om volgens gewete te stem sodat demokrasie in dié munisipaliteit uiteindelik kan seëvier.
‘n Groepering van ANC-raadslede het egter die vergadering verlaat sodat daar nie ‘n kworum was tydens die stemproses nie.
Die posisie waarin Setsoto hom bevind, kan suiwer aan ‘n gebrek aan leierskap toegeskryf word en daarom moet die burgemeester verantwoordbaar gehou word. Die ANC is egter nie ernstig oor dienslewering en ekonomiese groei nie en stel partybelange bo die belange van inwoners.
Alle inwoners verdien ‘n beter plaaslike regering en daarom sal die VF Plus aanhou veg vir ‘n beter bestuurde Setsoto in belang van die gemeenskap.
'n Raadsvergadering moet nou belê word waar daar oor die mosie van wantroue gestem kan word.
Die VF Plus eis dat huidige en vorige ANC-politici verantwoordelik gehou word vir die toestand waarin die munisipaliteit hom bevind en eis dat die burgemeester die eerbare weg sal volg en bedank of dat ANC-raadslede by die volgende vergadering volgens hul gewete sal stem tot voordeel van die gemeenskap.
Navrae: 078 646 1289