Die VF Plus sal deel vorm van ‘n komitee wat gaan toesien dat die geld wat die nasionale tesourie bewillig het om die 46 stukkende pompstasies van die Emfuleni-raad (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) te herstel en opruimingswerk te doen, oordeelkundig spandeer word.
Die SA Nasionale Weermag se sogenaamde genie-korps, die weermag se ingeneursformasie, tesame met rolspelers van die Gauteng-provinsie en Emfuleni-munisipaliteit sal deel uitmaak van die reddingaksie. Die aksie is so omvangryk dat dit maande of selfs ’n jaar sal duur om die infrastruktuur in so ’n mate te herstel en die besoedeling in die Vaalrivier op te ruim.
Tito Mboweni, minister van finansies, het die wiel aan die rol gesit waarna R200 miljoen vir die projek bewillig is. Hy het ook in sy mini-begroting daarna verwys.
Gedurende ’n vergadering Donderdag met betrokke rolspelers is besluit om plaaslike inwoners in diens te neem en op te lei wat gaan help met basiese instandhouding. Hulle sal ook omsien na die projek wanneer die weermag se taak afgehandel is.
Genl.maj. Thembelani T Xundu, hoofdirekteur van koöperatiewe dienste, het bevestig deel van die weermag se taak is om die pompstasies te omhein en te beveilig.
Daar is ook ’n beroep op die privaat sektor en organisasies gedoen om tot die projek by te dra.
Die VF Plus het ’n beroep op alle rolspelers gedoen om saam te werk om die enorme probleem in die Vaalrivier op te los.
Dit is skrikwekkend dat die hulp van die weermag ingeroep moes word. Hierdie is ’n voorbeeld van die ANC-regering wat nie die mas kan opkom om dorpe suksesvol te bestuur nie.
Die ineenstorting van die infrastruktuur en daarmee saam ’n bankrot munisipaliteit het ’n dreigende humanitêre krisis laat ontstaan. Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om te sorg dat die fondse wat aan hierdie projek toegeken is, verantwoordelik bestee word.
Die tyd is hier om terug te slaan teen swak dienslewering en vir die VF Plus te stem wat vooruitgang nastreef. Dit is nou of nooit.
Kontaknommer: 076 616 2124