Die VF Plus maan inwoners van Gauteng om alles in hul vermoë te doen om hulself teen die toenemende golf van ernstige geweldsmisdaad in die provinsie te beskerm.
Dit volg na nog twee skietvoorvalle die afgelope dae aan die Wesrand op weerlose mense waar die aanvallers uitermatige geweld gebruik.
‘n Bekende predikantspaar van Krugersdorp is Vrydagmiddag voor die kerk se pastorie tydens ‘n rooftog deur geweervuur getref en van ‘n som geld beroof wat vir sakgeld bestem was vir ‘n buitelandse vakansie nadat ‘n groep gewapende mans op hul motor geskiet het.
Die gesin het pas teruggekeer van ‘n bekende handelsbank met valuta nadat die bank hul laat weet het die geld is gereed.
In ‘n tweede voorval Sondagaand naby Lanseria het rowers ‘n boer in ‘n plaasaanval verskeie kere geskiet terwyl hy op sy stoep gesit het. Tydens die voorval is sy huismense, onder wie vier kinders van ses, elf, dertien en agtien ook aangehou.
Volgens ‘n buurman was die rowers op soek na wapens en het selfs ‘n dertienjarige meisie met ‘n vuurwapen teen haar kop gedreig. Die rowers het op twee van die kinders geskiet wat deur ‘n sydeur ontsnap het sonder om hulle te tref. Die rowers kon geen wapens vind nie, maar het met huisware gevlug.
Die publiek is toenemend uitgelewer aan gewetenlose misdaadsindikate wat duidelik oor effektiewe intelligensievermoë en opleiding beskik.
Binne-inligting lei dikwels tot aanvalle soos hierdie. Wetsgehoorsame burgers sal nou daadwerklik pogings moet aanwend om opgelei te word om bedag te wees op aanvalle van dié aard en om dit die hoof te bied.
Die polisie kan die publiek duidelik nie meer beskerm en die regering van Gauteng het sy inwoners reeds gefaal.
Die enigste uitweg is om die ANC uit die kussings te lig en ‘n bekwame veelparty-regering in plek te stel wat inwoners se veiligheid eerste stel. Kiesers moet hulle stem dik maak by die stembus en saam met die VF Plus terugslaan teen misdaad.
Kontak 082 466 3786/ 062 391 1804