Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, se beloftes dat die Masilonyana-waterkisis aangespreek word, blyk leeg te wees met nog waterprobleme wat in Brandfort dreig.
Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het vanoggend verneem dat ‘n waterpomp se elektrisiteit afgesny is weens Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Brandfort, Soutpan, Theunissen, Verkeerdevlei, Winburg) se agterstallige skuld aan Eskom.
Geen noodsaaklike watersuiwering sal gevolglik kan plaasvind nie.
Die kragpunt voorsien elektrisiteit aan die rouwaterpomp wat water uit die Sandvetkanaal kry. Dit word direk deur Eskom van elektrisiteit voorsien. Weens die munisipaliteit se nie-betaling van hierdie kragpunt se rekening, is die elektrisiteitsvoorsiening afgesny.
Inwoners van Brandfort kan weer deur watertekorte geraak word weens hierdie swak finansiële bestuur.
Die VF Plus het die munisipale bestuur van Masilonyana in die verlede reeds daarop gewys dat die munisipaliteit se dorpe nie noodwendig waterprobleme as gevolg van ‘n elektrisiteitstekort hoef te ervaar nie, solank rekeninge van dié elektrisiteitspunte regoor die munisipaliteit betyds betaal word.
Masilonyana sou reeds verskeie kennisgewings van Eskom oor die uitstaande skuld op die kragpunt ontvang het, maar weens swak finansiële bestuur sal rouwater nou nie gepomp en suiwering kan plaasvind nie.
Weereens word betalende inwoners van Brandfort te nagekom weens die ANC se onvermoë om basiese finansiële verpligtinge na te kom.
Die premier kan nie voortgaan om beloftes aan inwoners te maak terwyl stappe nie geneem word om te verseker dat munisipaliteite hulle basiese finansiële verpligtinge nakom nie.
Kontaknommer: 083 272 8664