Die hoofstad van die Noordwes is die vuilste hoofstad in die land, het Hannes Schutte, VF Plus-LPW in die Noordwes wetgewer gesê na die wetgewer se openbare rekeninge-komitee, tesame met die Ouditeur-Generaal met die Mafikeng-plaaslike munisipaliteit se stadsraad vergader het.
Gedurende die vergadering het die Ouditeur-Generaal onder andere foto’s voorgelê waarop gesien kan word hoe rouriool op verskeie plekke in die stad en selfs tot in die Molopo-rivier loop.
Van die foto’s bevat ook beelde van rou riool wat al sedert Februarie 2017 voor ‘n skool verbyloop en ‘n ernstige gesondheidsrisiko vir van die kwesbaarste lede van die gemeenskap, naamlik kinders, inhou.
Rommel wat op openbare terreine gestort word, wat aan die brand gesteek word, deur diere gevreet word, stink en die atmosfeer besoedel is ook byna oral te sien.
Volgens Schutte is rommel en riool egter nie die enigste probleme wat deur die Mafikeng-munisipaliteit ondervind word nie.
Volgens die OG se verslag is daar geen interne kontrole in plek vir die behoorlike bestuur van die munisipaliteit nie, is daar geen beleid in plek vir die beplanning, bestuur en onderhoud van die munisipaliteit se infrastruktuur, soos onder andere die rioolstelsels nie en verliese aan water en elektrisiteit vier maandeliks hoogty.
“Die stad Mafikeng word al vir 20 jaar deur die ANC-regering bestuur en hulle kon kwalik meer regkry as om dit in ‘n stinkende ashoop as aanklag van hulle onvermoë te verander,” het Schutte gesê.
Kontakbesonderhede: 079 400 8132 / 079 838 6587