fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Afrikaner-jeug mag met trots en ywer bou aan ‘n beter Suid-Afrika

(Uittreksel uit die nasionale jeugleier, Tammy Wessels, se toespraak by die VF Plus-jeug se Jeugdagvieringe by die Voortrekkermonument)

Suid-Afrika behoort aan almal wat in hom bly, soos in die Grondwet verskans. Suid-Afrika se toekoms behoort aan die jeug. Ons as Suid-Afrikaanse jeug bepaal deur ons daaglikse woorde en dade Suid-Afrika se toekoms, maar om die toekoms te bepaal moet ons die geskiedenis ken en verstaan. Deur die wêreldgeskiedenis heen het jeug ‘n baie belangrike rol vertolk om verandering aan die dag te bring.

Daar is krag in geskiedenis – in Suid-Afrikaanse geskiedenis, in Afrikaner-geskiedenis. As jy wil weet waarheen jy op pad is, is dit belangrik om te weet waar jy vandaan kom, sodat ons nie net kan leer uit die foute van die verlede nie, maar kan bou op ‘n sterker, beter toekoms. Afrikaner-jeug het geskiedenis om op trots te wees en waaruit waardevolle lesse geleer kan word.

Baie van ons het groot geword met stories oor Dirkie Uys en Danie Theron, die Boere Generaals van die Anglo-boereoorlog en die vrouens en jongmense tydens die oorloё, maar die regering van die dag is besig om Afrikaner-jeug stelselmatig van die ware feite van hul herkoms te ontneem. Afrikaner-jeug word deur middel van die huidige skolekurrikulum geleer dat dit ‘n skande is om trots te wees op hul geskiedenis. Die ANC se beplande verpligte geskiedeniskurrikulum tot en met Gr.12 sal geen uitsondering wees nie.

Daar is verskeie politieke partye en ander groepe, soos die EFF, wat propageer dat wit mense nie in Suid-Afrika hoort nie. Die jeug kan verandering teweeg bring. Goed of sleg. As die radikale jeug bymekaar kom is ons toekoms duister. Ons as Afrikaner-jeug het ‘n verlede om op trots te wees. Ons het 'n ongelooflike Suid-Afrikaanse en Afrikanergeskiedenis en daarvoor sal ons nie jammer sê nie.

Dit is ons plig om toe te sien tot ‘n beter Suid-Afrika. Ons, soos alle ander Suid-Afrikaanse jeug, hoort in Suid-Afrika. Dit is ons land, ons mense en die enigste plek ter wêreld waar ons taal gepraat word. Ons is Afrikane en ons gaan nêrens. Ons voorvaders het gehelp om Suid-Afrika op te bou en ons sal die taak met trots en ywer voortsit.

 

Kontakbesonderhede: 082 490 6663

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.