fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

OB se verslag oor verkoop van brandstofreserwes fokus nie genoeg op oud-minister Joemat-Pettersson

"Die VF Plus is teleurgesteld dat die Openbare Beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, in haar ondersoek na die onreëlmatige verkoop van Suid-Afrika se strategiese brandstofreserwes, nie genoeg aandag geskenk het aan die rol wat die destydse minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, in die aangeleentheid gespeel het nie," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter.

"Die VF Plus het in die besonder in sy klag destyds aan die OB gevra dat die minister se rol en moontlike gebrek aan oorsig, ondersoek moet word.

"In stede daarvan word die skuld vir die onreëlmatighede wat gevind is, voor die deur van mnr. Sibusiso Gamede, die vorige hoof-uitvoerendebeampte van die Strategiese Brandstoffonds (SFF) geplaas. Dit is veral vreemd dat die OB die minister nooit ondervra het nie ten spyte van die versoek van die VF Plus om die minister te ondersoek.

"Die VF Plus het die OB spesifiek versoek om die moontlike aanspreeklikheid van Tina Joemat-Petterson te ondersoek in die verkoop van die strategiese brandstofvoorraad wat die land blootgestel het aan 'n moontlike brandstofkrisis."

"Die OB maak wel bevindings van onreëlmatighede, maar om redes wat nie heeltemal verstaanbaar is nie, word net Gamede uitgewys.

"Die ondersoek maak nie duidelik of Joemat-Pettersson geweet het van die nie-nakoming deur Gamede, of sy dit goedgekeur het en of sy werklik mislei is nie. Daar is ook geen duidelikheid oor al die aspekte van nie-nakoming en wat die verantwoordelikheid van Joemat-Pettersson was en watter dié van Gamede nie.

"Wie se verpligting dit was om die minister van finansies, as hoof van die Nasionale Tesourie, skriftelik van die transaksie in kennis te stel, word nie behandel nie."

"Joemat-Pettersson moes ook, nadat sy as minister die verkoop van die strategiese brandstofvoorraad onder voorwaardes goedgekeur het, behoorlike toesig gehou het oor die proses wat sou verseker dat Gamede nie afwyk van vasgestelde prosedures nie. Of sy haar pligte in dié verband behoorlik nagekom het, is nie behandel nie, ten spyte van VF Plus se versoek.

"Dieselfde beginsel moet toegepas word in terme van die oud-minister se verpligtinge met betrekking tot die ministeriële opdrag wat die SFF 'n mandaat verleen het om die land se strategiese brandstofvoorrade te bekom en te bestuur.

"Die VF Plus is van mening dat die ondersoek meer gefokus kon gewees het op die uitvoerende toesigverantwoordelikhede van Joemat-Pettersson en enige moontlike politieke beskerming wat sy aan Gamede verleen het. Die VF Plus hoop dat die strafregtelike ondersoek dieper sal delf," sê Alberts.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.