Die vervalle stadsaal van Bloemfontein dien as ‘n voorbeeld van die toestand waarin Mangaung se Metro-munisipaliteit homself bevind.
Dit is vandag (Donderdag 21 Junie 2018) ‘n jaar sedert die stadsaal tydens gewelddadige stakings deur die Suid-Afrikaanse Munisipale-Werkersunie (Samwu) afgebrand is. Beloftes van herstel- en restourasiewerk deur die uitvoerende burgemeester van Mangaung, Olly Mlamleli, bly intussen leeg en niemand is tot op hede aanspreeklik gehou vir die skade wat aangerig is nie.
Dévar Smit, VF Plus-raadslid in die Mangaung Metro-munisipaliteit sê die metro, soos die ruïne van die stadsaal, verkeer ook in ‘n toestand van jammerlike verval.
Smit sê dit is duidelik dat nie Mlamleli óf die ANC die politieke wil of die vermoë het om die politieke vure in die metro te blus nie.
"Die Boemfontein-stadsaal was ‘n beeld en baken van die stad se trots van ‘n ryke geskiedenis wat die ANC duidelik nie wil erken nie"
Die VF Plus verwelkom die aanstelling van kundige kontrakteurs om dié erfenisgebou te restoureer, maar is besorg oor die burgemeester en die ANC se laksheid om die herstelwerk aan die stadsaal as ‘n saak van dringendheid te beskou.
Die Vrystaatse Erfenis-owerheid het reeds in Julie 2017 aan die metro opdrag gegee om binne sewe dae reëlings te tref om te verseker dat die stadsaal nie verder beskadig word nie. Mlamleli het ontken dat sy so ‘n opdrag ontvang het en vandag staan die gebou steeds vervalle (sien ook tydlyn onder).
Die VF Plus se LPW in die Vrystaatse Wetgewer, Tammy Wessels, het die LUR vir Kuns en Kultuur, Mathabo Leeto, amptelik versoek om ingevolge die Wet op Nasionale Erfenisbronne (Wet 11 van van 1999) opdrag te gee dat herstelwerk as ‘n saak van dringendheid begin.
Ingevolge Artikel 45 van die Wet is die Vrystaatse Erfenis-owerheid, as bewaarder van erfenisbates, by magte om die munisipaliteit opdrag te gee om die nodige herstelwerk vir bewaring van die bate te doen.
Die Erfenis-owerheid is ook by magte om, indien die munisipaliteit dit nie binne ‘n redelike tyd doen nie, self die herstelwerk te doen en die kostes van die munisipaliteit te verhaal.
"Die Boemfontein-stadsaal was nie net ‘n besondere erfenisbate nie, maar ‘n beeld en baken van die stad se trots van ‘n ryke geskiedenis wat die ANC duidelik nie wil erken nie.
"Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om seker te maak dat die owerhede hul plig nakom om dié besondere gebou te herstel.
"Soos die stadsaal ‘n jaar later steeds afgebrand staan, is die ANC-leierskap ook in sak en as wat dienslewering en finansiële bestuur betref. Die verskil is dat, hoewel die stadsaal se brand geblus is, die metro steeds onder korrupsie, wanbestuur, onkundige administrasie en swak dienslewering voortbran," sê Smit.
Die tydlyn van die gebeure by die stadsaal is as volg:
21 Junie 2017 Bloemfontein-stadsaal brand af tydens gewelddadige betogings deur Samwu.
23 Junie 2017 ANC ontmoet met Samwu.
23 Junie 2017 Polisie bevestig a) forensiese ondersoek na die brand en b) arrestasies van drie persone wat verband hou met klagtes van brandstigting.
6 Julie 2017 Die Vrystaatse Erfeniskomitee gee aan die Mangaung Metro-munisipaliteit opdrag om binne sewe dae reëlings te tref om die gebou teen verdere beskadiging te beveilig en te herstel.
7 Julie 2017 Mangaung Metro-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, me. Olly Mlamleli, ontken dat sy bogenoemde opdrag van die Erfeniskomitee ontvang het.
17 August 2017 Klagte teen verdagtes word teruggetrek.
12 September 2017 Die Vrystaatse Erfeniskomitee dui aan dat die metro ‘n ope-uitnodiging aan argitekte gerig het om deel neem aan die inspeksie-proses by die stadsaal.
19 Oktober 2017 Argitekte dui aan dat beperkte skade aan die stadsaal se struktuur aangerig is.
25 Januarie 2018 Die burgemeester kondig aan dat kontrakteurs aangestel is om met herstelwerk en restourasie te begin.
4 Maart 2018 Stadsaal word aan kontrakteur oorgegee vir herstelwerk.