fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Mlamleli se arrestasie is ‘n stap in die regte rigting teen regeringskorrupsie

"Die VF Plus verwelkom vandag se arrestasies deur die Valke van verskeie hooggeplaastes, wat insluit amptenare, sakemanne en politici, weens beweerde bedrog en geldwassery met betrekking tot die gewraakte asbesouditkontrak in die Vrystaat van nagenoeg R255 miljoen," sê Wouter Wessels, VF Plus-LP.

"In besonder word die arrestasie van me. Olly Mlamleli, voormalige Mangaung-burgemeester wat onlangs weens ‘n geslaagde mosie van wantroue deur die VF Plus as burgemeester verwyder is, verwelkom.

"Die Vrystaat is leeg geplunder weens bedrog en korrupsie en het veral deurgeloop onder staatskaping. Dit is die VF Plus se standpunt dat nie slegs die amptenare wat by korrupte transaksies, tenderbedrog en ander wanpraktyke met staatsgeld betrek word gestraf moet word nie, maar ook die politici daaragter.

 

"Daarom word Mlamleli se arrestasie in besonder as ‘n verdere oorwinning vir die VF Plus geag, nie net omdat beweerde korrupte politici aan die pen ry nie, maar ook omdat ‘n burgemeester ‘n onkreukbare karakter moet hê en ‘n goeie bestuurder moet wees. Die stand van die Mangaung-metro-munisipaliteit en onlangse verwikkeling spreek dus boekdele."

 

"Hierdie arrestasies is egter waarskynlik slegs die oortjies van die seekoei en daar sal veel strenger optrede nodig wees om werklik die hooggeplaastes wat agter die plundering van die Vrystaatse staatskas sit tot verantwoording te bring.

"Daar is verskeie ander projekte, soortgelyk aan die asbesoudit, waar miljarde rand verlore gegaan het weens bedrog en korrupsie, soos die Vrede-suiwelskandaal waarby van die mees hooggeplaaste ANC-politici betrek word. Tog is slegs voormalige amptenare van die provinsiale departement van landbou daarvoor vervolg.

"Totdat politieke ampsbekleërs in regeringsdepartemente nie verantwoordelik gehou word vir bedrog en korrupsie in hulle departemente nie, sal regeringskorrupsie nie uitgeroei word nie. Daarom is Mlamleli se arrestasie ‘n stap in die regte rigting," sê Wessels.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.