Volgens die jongste misdaadstatistiek soos vandag bekend gemaak deur die minister van polisie, Bheki Cele, het moord toegeneem met 6,9% teenoor die vorige finansiële jaar, motorkapings het afgeneem met 2,3% en rooftogte by woonhuise het afgeneem met 0,4%. Die drie misdade staan bekend as die trio-misdade.
Die werklikheid van misdaad in Suid-Afrika is dat moord die sesde agtereenvolgende jaar gestyg het. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 35,1 per 100 000 van die bevolking teenoor die wêreldgemiddeld van 7 per 100 000 van die bevolking.
"Dit beteken Suid-Afrika se moordsyfer is vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Indien gekyk word na die trio-misdade en veral rooftogte by woonhuise wat die mees gevreesde misdaad in Suid-Afrika is, en dit vergelyk met die afgelope ses jaar, dan het moord met 30,7% gestyg (20 336 gevalle – 55,7 per dag), motorkapings met 73,35% (16 325 – 44,7 per dag) en rooftogte by woonhuise met 32,77% (22 261 – 61 per dag),"sê Groenewald
Oor die afgelope ses jaar was daar ‘n toename van 10,7% in plaasmoorde
Wat roof met verswarende omstandighede aanbetref, was daar 138 364 gevalle. Hierdie misdaad het die afgelope ses jaar met 37,3% toegeneem.
"Suid-Afrika is ‘n gewelddadige land en die publiek kan met reg sê hulle voel onveilig en dat misdaad toeneem in Suid-Afrika. Dit ten spyte van geringe afnames in motorkapings en rooftogte by woonhuise in die laaste boekjaar," sê Groenewald
Die VF Plus verwelkom ook die bekendstelling van statistiek oor plaasmoorde wat vir die eerste keer sedert 2007 weer saam met die algemene misdaadstatistiek bekend gemaak word.
Dit volg na volgehoue druk deur die VF Plus op die regering, asook persoonlike gesprekke tussen dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, en minister Cele.
"Volgens die polisie was daar 62 plaasmoorde in die 2017/18-boekjaar. Oor die afgelope ses jaar was daar ‘n toename van 10,7% in plaasmoord.
"Wat verder kommerwekkend is, is dat die moordsyfer op vroue en kinders gemiddeld met 14,1% toegeneem het teenoor die vorige boekjaar. In die geval van meisies was die toename 10,9%, in die geval van seuns 20,4% en by vroue ‘n toename van 11%.
"Vroue en kinders is die mees kwesbare slagoffers van geweld en hierdie moordsyfers is ‘n aanduiding dat respek vir vroue en kinders ‘n krisis is wat die polisie daadwerklik sal moet aanspreek," sê Groenewald.