"Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, het vandag op ‘n vraag van die VF Plus tydens ‘n sitting van die Gautengse wetgewer bevestig dat skole wat vol is, se taalbeleid gerespekteer sal word. Hierdie bevestiging van Lesufi kom natuurlik in weerwil van sy eie poging om Afrikaanse skole wat vol is, te dwing om anderstalige leerlinge in te neem soos met die welbekende Hoërskool Overvaal-geval," sê Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter en LPW in Gauteng.
"Gegewe die geweldige plasingsprobleme wat ondervind word met Lesufi se aanlyn-plasingstelsel, sal hierdie beleidstandpunt van Lesufi goed dopgehou word sodat die beleid nie verbreek word nie.
"Dit is algemeen bekend dat die plasingstelsel leerlinge nie noodwendig in die skool van hul keuse plaas nie, veral wat taalvoorkeur aanbetref.
"Die VF Plus het ‘n klag in die verband by die Openbare Beskermer (OB) aanhangig gemaak."
Lesufi het ook aangedui dat alle leerlinge vir die 2020-skooljaar geplaas is nieteenstande probleme wat Graad 1-leerlinge ervaar in Danville, Pretoria, wat vroeg genoeg aansoek gedoen het by ‘n Afrikaanse skool, maar nie geplaas is nie omdat die skool reeds vol is. Die VF Plus is tans besig om die kwessie op te volg.
Volgens Lesufi word 1333 skole uit die 2300 in Gauteng wat nog plek het vir leerlinge, nie ten volle benut nie. Dit is die mening van die VF Plus dat Lesufi ‘n verpligting het om te sorg dat skole optimaal gebruik word alvorens Afrikaanse skole gedwing word om anderstalige moedertaalsprekende leerlinge in te neem.
"Hy het tydens die vraesessie in die sitting nie ‘n vraag geantwoord in welke mate die infrastruktuur van skole geraak word waar skole gedwing word om meer leerlinge in te neem nie.
"Die VF Plus sal sorg dat moedertaalonderrig in skole beskerm word en dat bestaande skole ten volle gebruik word sonder om druk op moedertaalonderrig te plaas."
"Dit beteken dat selfs skole wat ten volle na Engels oorgeskakel het, in die toekoms vir Afrikaans kan plek maak," sê Alberts.