fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Krugersdorp-belastingbetalers kry minder waarde vir hul geld

Krugersdorp se belastingbetalers kry al hoe minder waarde vir hul geld met reservoirs wat leegloop, gebarste waterpype en noodsaaklike infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie.

Inwoners in groot dele van die dorp, veral Kenmare, is dié week weereens met geen tot ‘n beperkte waterdruk gelaat.  Dit volg kort ná 'n raadsvergadering waarin Mogale City sy halfjaarlikse finansiële-vorderingsverslag bekend gemaak het wat aandui dat geld vir munisipale infrastruktuur wat van nasionale tesourie ontvang word, nie aan instandhouding en opgradering bestee word nie.

"Gebarste waterpype en lekplekke lê soms vir weke voordat dit herstel word, wat tot grootskaalse waterverlies lei. Die Mogale City-raad betaal Rand Water as diensverskaffer vir al die gelewerde water en eindverbruikers betaal net vir die verbruikte water wat deels daartoe lei dat Mogale City nie sy krediteure kan betaal nie," sê Amanda de Lange. VF Plus raadslid in Mogal City.

Volgens die halfjaar-verslag skuld Mogale City Rand Water reeds R60 miljoen wat vir meer as 60 dae uitstaande is met ‘n periodieke verlaagde watertoevoer as sanksie deur die diensverskaffer as gevolg.

Die munisipaliteit verkeer in ‘n krisis omdat geen fondse bestee kan word om ou infrastruktuur te vervang of opgraderingswerk te doen nie. Waarskuwingsligte flikker al vir etlike jare en die VF Plus het  op gereëlde basis gedurende portefeulje-komiteevergaderings die raad versoek om dringend aandag hieraan te gee.

De lange sê die ANC-munisipale bestuur se onvermoë om die stadsraad sinvol en volhoubaar te bestuur, kos inwoners en belastingbetalers 'n magdom geld vir dienste wat hulle nie ontvang nie terwyl die dorp besig is om vinnig agteruit te boer. Sy sê daar is eenvoudig nie genoeg gekwalifiseerde tegniese personeel en infrastruktuur om die probleme aan te spreek nie.

"Klagtes oor die wanadministrasie en -bestuur deur Mogale City is op verskeie geleenthede by die Gautengse provinsiale departement vir plaaslike regering (CoGTA) ingedien sonder sukses.

"Die VF Plus is besig met ‘n proses van alternatiewe remediërende aksies om die regering te dwing om daadwerklik by Mogale City in te gryp," sê De Lange.

Inwoners word aangemoedig om die VF Plus se aanlyn- "Red Mogale-aksie" te steun om so die ANC-plaaslike regering te dwing om dienslewering ‘n prioriteit te maak en belastingbetalergeld oordeelkundig te gebruik.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.