"Kragvoorsiening in Noord-Kaapse dorpe is op die punt van ineenstorting. Aangesien elektrisiteit aan die grondslag van hedendaagse ekonomiese aktiwiteit lê, is 'n omvattende oplossing noodsaaklik," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en provinsiale leier van die Noord-Kaap.
"Daarvoor sal administratiewe veranderings aangebring moet word; Eskom sal 'n tegemoetkomende houding moet inneem; munisipaliteite wat onbevoeg is om kragverspreiding korrek te hanteer, behoort die reg te verloor en dorpe behoort plaaslike slimnetwerke te ontwikkel waar verbruikers van krag ook die voorsieners daarvan is.
"Die huidige krisis het ontstaan toe die Renosterberg-munisipaliteit (Philipstown, Petrusville en Vanderkloof) gedwing is om 'n plaaslike beurtkragskedule in Vanderkloof toe te pas.
"Twee agterstallighede is hier ter sprake: Die lopende kragrekening wat inwoners van Vanderkloof wel betaal, maar wat Renosterberg nie aan Eskom oorbetaal nie; asook die kapasiteit vir maksimumverbruik wat nie deur Renosterberg verhoog is namate Vanderkloof gegroei het nie. Kragvoorsiening aan Vanderkloof word tot die wettig-betaalde kapasiteit beperk.
"Intussen het Eskom die Phokwane-munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp en Pampierstad) kennis gegee dat plaaslike beurtkrag op dieselfde wyse en om dieselfde redes as in Vanderkloof ingestel moet word.
"Aanduidings is dat min Noord-Kaapse munisipaliteite konsekwente optrede van dié aard sal vryspring."
"Die sentrale oorsaak is wanadministrasie op munisipale vlak. Administratiewe aanpassing wat nodig is, is voorafbetaalde meters wat geld wat aan Eskom betaalbaar is, onmiddellik oorbetaal en slegs dit wat die verspreiders (tot dusver munisipaliteite) toekom, aan hulle oorbetaal. 'n Deel daarvan kan ook na Eskom gekanaliseer word om agterstallige skuld in te vorder.
"'n Tegemoetkomende houding van Eskom kan verhaling van agterstallige skuld, sowel as toekomstige sake, verseker. Indien kragtoevoer verlaag of onderbreek word, kan dit tot die ineenstorting van plaaslike ekonomieë lei. Uiteindelik kan plattelandse netwerke onbenut staan, terwyl bykomende kapitaal in stedelike gebiede bestee moet word.
"Plaaslike owerhede beskik tans oor lisensies om krag van Eskom te koop en aan verbruikers te verkoop. Dit is 'n integrale en onmisbare deel van die finansiële model vir plaaslike regering.
"Munisipaliteite wat op hierdie terrein verbrou, behoort hul lisensie te verloor. Private instellings behoort geskep te word wat krag binne dorpe versprei. Die oplossing in hierdie verband lê nié in die skepping van nóg groter en lomper munisipaliteite nie."
"Die ANC se instinktiewe reaksie is om "groter kapasiteit" deur sentralisering te skep. So is lewensvatbare dorpies in 2000 by groter munisipaliteite ingesluit, wat vandag nie hul verpligtinge kan nakom nie.
"Ten spyte van goeie planne wat gemaak kan word, moet gemeenskappe hulle voorberei om kragvoorsiening op hulself te neem. Die skepping van slim netwerke wat opwekking, berging en verspreiding van krag onder verbruiker-produsente verdeel, word toenemend lewensvatbaar.
"Dit sal egter goeie beplanning en toewyding van gemeenskappe verg, asook die bereidheid om instellings te skep wat tipiese plaaslike regeringsfunksies kan vervul. Namate die staat faal, sal burgerlike instellings die plek daarvan moet inneem," sê Boshoff.