Kersfees laat jou onwillekeurig terugdink aan die jaar wat verby is. Vir die Vryheidsfront Plus was dit ‘n bedrywige jaar, gelaai met uitdagings en sukses. ‘n Jaar van harde werk en ‘n jaar, wat na my mening, ‘n keerpunt was vir ons party.
Die VF Plus het geweldige groei en sukses gedurende 2018 beleef en met tussenverkiesings groei van tot 73% geniet.
So het elkeen sekerlik persoonlike uitdagings in die jaar gehad waarvan sommiges suksesvol en ander teleurstellend oorwin en verloor is. Vir sommiges was dit ‘n jaar vol vreugde en vir ander ‘n jaar ook met verdriet. Dit is tyd vir bestekopname.
In ons politiek is daar baie onsekerhede wat twyfel in die gemoedere van mense skep. Die kwessie van onteiening van jou eiendom sonder vergoeding is sentraal tot die onsekerheid vir die toekoms. Die toenemende vraag is wat is ons toekoms, hoe veilig is ons, sal ons ekonomies oorleef, sal ek nog ‘n werk hê. Sommiges is reeds werkloos en wonder of hulle ‘n werk gaan kry om vir die gesin te kan sorg.
"Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig"
Einde van die jaar is 'n tyd vir dankie sê. Die VF Plus is dankbaar teenoor sy lojale ondersteuners en kiesers wat trots ons Christelike- en minderheidsregte benadering ondersteun. Hulle verstaan waaroor dit werklik in Suid-Afrika gaan. Hulle ondersteuning maak ons sterk.
Die wonderlike is dat aan die vooraand van die einde van die jaar is daar Kersfees. Die kersboodskap van God wat ons so lief het dat Hy Sy enigste Seun vir ons gestuur het, is om ons moed te gee en te laat weet by Hom is daar altyd hoop.
Baie mense dink hulle kan die huidige uitdagings en twyfel in eie krag oorwin, maar dit is nie waar nie, maar die ware boodskap van Kersfees gee ons die moed en krag.
"Met een beweging kan Hy alles oornag anders maak vir ons – ook in Suid-Afrika"
Daarom moet ons met nederigheid ons uitdagings op ons knieë voor ons Hemelse Vader lê, want dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig, sê die Bybel.
Psalm 146 stel dit so mooi: “Moenie op ’n mens vertrou nie. Sy asem verlaat hom en sy planne is daarmee heen. Dit gaan goed met die mens wat sy hoop op die Here vestig.”
Dit is ook die VF Plus se uitgangspunt.
Met dankbaarheid weet ons ook dat ons verdriet en teleurstellings nie oorwin sou kon word sonder Sy genade nie. Genoeg dankbaarheid daarvoor kan ons nie bewys nie.
Twee duisend jaar gelede stuur God, deur die geboorte van Jesus Christus, die wêreld in ’n totaal ander rigting. Wat ’n troos dat die toekoms nie deur ons op ons eie geskep word nie, maar in Sy hande is. Met een beweging kan Hy alles oornag anders maak vir ons – ook in Suid-Afrika.
Volgende jaar is daar 'n algemene verkiesing. Mense gaan ons nie red nie, maar as instrumente in God se hande gaan ons by die VF Plus, met u steun, ons bes doen om 2019 op grondvlak, in die parlement en in elke wetgewer ’n beter jaar vir almal te maak. Mag ons die krag en die wysheid daartoe ontvang.
Mag u en u gesin en geliefdes die ware boodskap van Kersfees ervaar en geniet en mag die uitdagings van die nuwe jaar met nuwe hoop en moed aangepak word.