fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Implikasies van privatisering van Eskom vir energiesekerheid – VF Plus kan nie wag nie

Debat in parlement aangevra deur die EFF oor implikasies van privatisering vir Eskom en energie-sekerheid

"Die gesprek oor die privatisering van staatsondernemings is 'n algemene debatspunt vir ekonomiese teoretici, maar ook 'n warm gesprekspunt in spesifieke omgewings – byvoorbeeld waar dit oor Eskom gaan," sê dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van mineraal- en energiesake.

"Diegene wat sterk tot die vrye mark verbind is, kom oor die algemeen teen aanhangers van die sterk ontwikkelingstaat te staan. Beide groepe glo dat hulle antwoord die grootste voordeel vir alle welmenende landsburgers inhou.

"Gewone landsburgers is gewoonlik minder ideologies; hulle soek iets wat werk en wat hulle kan bekostig. Wanneer 'n sentrale kragvoorsiener soos Eskom goedkoop, betroubare krag voorsien, is die druk vir privatisering laer as wanneer dit onbetroubaar en duur word."

"Vir dekades het Eskom nie net krag regoor Suid-Afrika voorsien nie, maar ook gehelp om die denkbeeld van Suid-Afrikaanse eenheid in stand te hou. Die eenheid van hierdie uiteenlopende subkontinent is deur netwerke van paaie, spoorlyne, kragvoorsiening en lugvervoer geskep.

"Met stukkende paaie, verwaarloosde spoorlyne en 'n lugdiens met geknipte vlerke, word eenheid afgedwing met die dreigement dat kragvoorsiening beëindig kan word. Dit is waarom plekke soos die Noord- en Oos-Kaap toelaat dat hulle vanuit Johannesburg, Pretoria en selfs Nkandla regeer word.

"Eskom, met sy reuse kragsentrales en tienduisende kilometer kragdrade is tegnologies deel van 'n uitgedateerde model vir energievoorsiening. Tans is die tegnologie vir plaaslike en skoner krag beskikbaar. Dit word reeds, en toenemend, deur gewone burgers gebruik."

"Die debat vra wat die implikasies vir energie-sekerheid sal wees indien Eskom geprivatiseer word? Die antwoord is niks. Dit sal gedwing word om wins te maak of onder te gaan en die eietydse model van kragvoorsiening sal gedwing word om die toon aan te gee.

"Politieke implikasies daarenteen, sal veel groter wees. Suid-Afrikaanse streke sal geen rede meer hê om hulle aan die sosialistiese Suid-Afrikaanse staat te onderwerp nie. Die implikasies sal so dramaties wees as die bevryding van Afrikaners en ander minderhede," sê Boshoff.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.