"Eskom het in tien jaar sedert Januarie 2009 twaalf hoof uitvoerende beamptes in verskeie hoedanighede, van waarnemend tot tydelik en permanent, op die proef gestel om die sukkelende staatsentiteit te probeer red," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Nie een van die bestuurshoofde kon enige sukses behaal nie wat enersyds daarop dui dat daar met aanstellings moontlik eerder gefokus is op regstellnde aksie (RA) en staatskaaping ten koste van kundigheid.
"Dit is ook duidelik dat geen persoon ‘n behoorlike geleentheid gegun is om ‘n positiewe verskil te maak nie. Nie eens ‘n bekwame persoon sou Eskom onder sulke omstandighede in ‘n positiewe rigting kon stuur nie.
"Oorhoofs dien dit as bewys dat die ANC-regering nie in staat is om te regeer of entiteite soos Eskom en die SAL te bestuur nie."
"Minister Gordhan erken in sy antwoord dat die situasie kommerwekkend is.
"Hy sê onder meer dit is duidelik vir die departement (van openbare ondernemings) dat die aantal hoof uitvoerende beamptes wat nie die mas kon opkom nie, buitengewoon hoog was en dit is ‘n groot kwelpunt aangesien die aanstelling van ‘n uitvoerende hoof ‘n poging is om stabilitiet te bring.
"Die VF Plus wil opnuut ‘n beroep op die regering doen om weg te doen met rasgegronde beleid soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Eskom dien as bewys van die vernietigende effek daarvan op die entiteit self, en die land se ekonomie in geheel," sê Groenewald.