"Die VF Plus beskou die appèl wat die provinsiale ANC-regering in Gauteng gaan instel teen die tersydestelling van die administrasieproses van die Tshwane-metro, as niks anders nie as 'n desperate poging om die mag in die metro op 'n ondemokratiese wyse te bekom," sê adv. Anton Alberts, VF Plus-nasionale voorsitter en LPW in Gauteng.
"Die hofbeslissing van die Noord-Gautengse hooggeregshof het dit baie duidelik uiteengesit dat Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), nie sy eie verpligtinge nagekom het voordat hy die Tshwane-metro onder administrasie geplaas het nie.
"Hy is dus persoonlik verantwoordelik vir die tersydestelling van die administrasieproses. Daar is 'n klein kans dat 'n hoër hof tot 'n ander beslissing kan kom."
"Die feit dat Maile nog nie opgetree het deur die stadsraad van Emfuleni op dieselfde wyse onder administrasie te plaas nie, ten spyte van baie erger diensleweringprobleme asook die misdadige besoedeling van die Vaalrivier, is tekenend van die feit dat die Gauteng-regering ANC-stadsrade beskerm en koalisie-stadsrade aktief ondermyn. Daar is dus geen sprake daarvan dat die ANC demokrasie eerbiedig nie.
"Die VF Plus gaan die aanvanklike applikante in die saak adviseer om die hof te versoek om 'n bestraffende hofbevel teen Maile persoonlik weens die beuselagtige appèl en vir die vermorsing van belastingbetalers se kosbare geld.
"Die ANC dompel hiermee die toekoms van die Tshwane-metro en al sy inwoners in verdere onnodige onsekerheid terwyl die nasionale plaaslike regeringsverkiesing waarskynlik in net meer as 'n jaar sal plaasvind.
"Indien Maile se appèl sou slaag, sal 'n belaglike situasie geskep word waar 'n baie duur tussenverkiesing in die metro moet plaasvind en binne 'n jaar weer 'n nasionale plaaslike regeringsverkiesing."
"Dit is uiteraard 'n vermorsing van geld en energie en sal veroorsaak dat inwoners verkiesingsmoeg word terwyl hulle eintlik smag na goeie dienslewering wat tans nie plaasvind nie.
"Hierdie appèl van die Gautengse ANC-regering is weereens 'n bewys dat die ANC nie in belang van die mense van Gauteng regeer nie en verdien om verwyder te word. Daardie proses sal begin in elke munisipale raad tydens die 2021-nasionale plaaslike regeringsverkiesing," sê Alberts.