Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Gauteng: verduideliking oor VBS-bank is ontoereikend

"Die Gautengse LUR vir finansies se verduideliking oor die gesamentlike beleggings van R100 miljoen wat die Wesrand-distriksmunisipaliteit en die Merafong City-munisipaliteit by die omstrede VBS Mutual Bank onwettig gemaak het, is nie goed genoeg nie," sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.

Die munisipaliteite het Nasionale Tesourie se waarskuwings om nie geld by VBS Mutual Bank te belê nie, blatant geïgnoreer

Van Staden sê dit is onaanvaarbaar dat die ANC-regering toegelaat het dat die belegging verlore gegaan het weens amptenare wat die wet oortree het.

Hy sê dit blyk nie asof die provinsiale regering enige erns het om die skuldige amptenare aanspreeklik te hou nie.

Die VF Plus dring daarop aan dat daar aksie geneem word teen die twee munisipaliteite se onderskeie munisipale bestuurders en burgemeesters.

"Die munisipale bestuurders het as rekenpligtige amptenare die verpligting om toe te sien dat die wet in alle opsigte nagekom word.  Die beleggings by die VBS Mutual Bank is teenstrydig met die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) en daarom moet klagtes van bedrog teen die betrokke amptenare deur die LUR aanhangig gemaak word,"  sê Van Staden

Barbara Creecy, Gauteng se LUR vir finansies, het Dinsdag in die wetgewer gesê die twee munisipaliteite se onderskeie burgemeesters het haar genader oor die probleem en versoek om ‘n forensiese ondersoek oor die aangeleentheid van stapel te stuur.  Creecy het bygegoeg dat die Gautengse regering saam met nasionale tesourie en die nasionale departement van samewerkende regering sal werk om die probleem met munisipaliteite se beleggings by VBS Mutual Bank op te los.

Die VF Plus is van mening dat dit ongewoon is dat die twee burgemeesters so ‘n versoek aan die LUR gerig het. Dit wil voorkom of daar nog meer onreëlmatighede by hierdie beleggings betrokke is.

Van Staden sê die burgemeesters se versoek aan die LUR skep dit indruk dat die VBS-beleggings nie deur die onderskeie munisipale rade goedgekeur is nie en dat amptenare hul eie besluite in hierdie verband geneem het.

Hy het verlede week gevra dat die munisipaliteite se raadsbesluite oor die beleggings by VBS Mutual Bank beskikbaar gestel moet word.

"Betalende inwoners is die grootste verloorders as gevolg van die miljoene rande wat verlore is en die agterstand met dienslewering wat daarom nog groter word.

"Die VF Plus sal onverpoosd voortgaan om namens die belastingbetalers hierdie saak te dryf om die betrokke amptenare aanspreeklik te hou en strafregtelik te laat vervolg," sê Van Staden.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.