Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het aangedui die departement het sedert 2014 54 nuwe skole in Gauteng gebou.
Luidens mediaberigte het Lesufi egter in Augustus 2018 gesê 47 nuwe skole is gebou. In Januarie 2018 het die departement gesê net 42 skole is gebou.
Philip van Staden, VF Plus LPW in Gauteng, sê die syfers wat verlede Donderdag tydens ‘n mediakonferensie in Johannesburg bekendgemaak was, wys hoe verward Lesufi oor die situasie is.
Die VF Plus het in ‘n vraag op 4 Mei 2018 aan die minister van nasionale onderwys gevra hoeveel skole in die tydperk van 2014 tot 2018 in Gauteng gebou is. Die minister se antwoord was 52 en sy het ‘n lys van die 52 skole aan die VF Plus verskaf.
Van Staden het ook op 26 Februarie 2018 ‘n lys van al die skole in Gauteng ontvang vanaf die departement. Die jongste lys is ook verkry vanaf die departement se webwerf verlede Vrydag.
"’n Vergelyking van hierdie twee lyste wys dat 30 van die nuwe skole op die minister se lys glad nie op die Gautengse onderwysdepartement se lys is nie. Net 22 nuwe skole kom dus voor op die departement se lys. Dit verander die prentjie ingrypend en kom daarop neer dat net 22 nuwe operasionele skole gebou is sedert 2014.
"Lesufi sal moet verduidelik wat hier aangaan en hy sal bewyse moet lewer dat daar wel 52 skole gebou is en operasioneel is. Indien hy dit nie kan doen nie, sal ‘n onafhanklike oudit op alle skole in Gauteng gedoen moet word om vas te stel hoeveel skole in die provinsie is en hoeveel wel operasioneel is.
"Die saak kan slegs opgelos word indien die LUR hierdie bewyse kan lewer. Indien hy dit nie kan doen nie, sal die VF Plus genoodsaak wees om ‘n onafhanklike oudit op alle skole in die provinsie aan te vra.
"Indien so ‘n oudit sal bevind dat daar skole gelys is wat nie operasioneel is of nie gebou is nie, sal daar dieper gedelf moet word om te kyk wat die LUR en sy departement met die befondsing vir die oprigting van hierdie skole gemaak het.
"Sou die oudit bevind dat daar wel die regte hoeveelheid skole gebou is en operasioneel is, sal dit beteken dat die departement se werk nie op standaard is nie en dat die lyste nooit opgedateer is nie.
"Die rede waarom die LUR nie die VF Plus se vraag in die Gauteng Wetgewer op 28 Junie 2018 oor die onderwerp, wou beantwoord nie, word nou al hoe duideliker en die legkaart van vrae is besig om in mekaar in te begin pas," sê Van Staden.