Die Wetsontwerp op Onteiening hou ernstige ekonomiese gevolge in en moet in die Grondwethof getoets word want die VF Plus is oortuig daarvan dat dit ongrondwetlik is.
Dit wetsontwerp is oneerlik. Die aanhef begin met Artikel 25 van die Grondwet. Daarmee wil die indruk gewek word dat dit in lyn is met Artikel 25 van die Grondwet rakende onteiening.
Aspekte soos vergoeding kom egter ter sprake en die VF Plus rig daarom ʼn versoek én ʼn uitdaging aan die regering om die wet te laat toets in die Grondwethof. Die Grondwet maak wel daarvoor voorsiening.
Wat die oneerlikheid van die wet aanbetref, moet gekyk word na die wetlike definisie van ‘eiendom’. Dit sluit ook in roerende- en intellektuele eiendom wat in die gedrang kan kom.
Die waarheid is dat die wet vir die ANC nie gaan oor grondhervorming as sulks nie. Dit gaan oor die mag wat grondbesit bring.
Benewens die onvoorsiene gevolge van die wetsontwerp, is daar ook duidelik voorsienbare gevolge.
Die grootste nadele van die onteiening gaan handelsbanke, finansiële instellings en veral private eienaars raak. Ondernemings wat ontwikkeling in die land wil doen, sal twee keer dink.
Hierdie nadele gaan niks minder nie as die vernietiging van die land se ekonomie beteken. Want private eienaarskap is een van die hoekstene van ʼn demokrasie en ʼn vryemark-stelsel.
Met die Onteieningswetsontwerp word hierdie hoekstene ondergrawe. Die gevolge is stygende lewenskoste, voedselonsekerheid, groter werkloosheid en selfs groter armoede.
Geen belegger sal sy geld belê waar hy weet dit kan onteien word sonder vergoeding nie.
Die eindelike verloorders is die jeug van Suid-Afrika.
Hul toekoms gaan gesteel word deur ʼn wet wat nie as die Onteieningswet bekend moet staan nie, maar eerder as die Wet van Vernietiging.