fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Begrotingsposdebat in parlement: Hoër onderwys en opleiding – 13 Mei 2021

Die departement van hoër onderwys en opleiding volg ontoepaslike ideologiese uitgangspunte, wat die harde werk van talle rolspelers neutraliseer. Eerder as gratis hoër onderwys, moet toeganklike lenings toegestaan word; en eerder as die sentralisering van universiteite en beroepskolleges, moet ‘n hegte verbintenis tussen gemeenskappe en instellings geskep word.

Dit is ‘n groot verantwoordelikheid om mense met die kennis en vaardighede vir die gesofistikeerde Suid-Afrikaanse ekonomie op te lei. Volgens die begroting sal dit die land vanjaar ongeveer R117 miljard kos – een van die duurste departemente in die land se begroting. Nogtans word hierdie sektor deur onrus en geweld gekenmerk.

‘n Noodlottige vertrekpunt wat in Suid-Afrika gevolg word, is dié van gratis hoër onderwys en opleiding.

Die staat se agentskap vir die finansiering van studente, NSFAS, se begroting is vanjaar ten koste van universiteite se normale befondsing aangevul. Dit terwyl die skema daarvoor voorsiening maak dat studente vir vyf jaar gefinansier kan word om ‘n driejaargraad te voltooi – sonder om enigsins gepenaliseer te word.

Volgens die VF Plus moet NSFAS-toelae in lenings omgeskakel word. Indien ontvangers van dié lenings met aanvaarding op die lopende belastingstelsel geregistreer word, beteken dit dat hulle kan begin terugbetaal sodra hulle geld verdien. Dit sal studente ook aanmoedig om studies nie onnodig uit te rek nie.

Nog ‘n ontoepaslike vertrekpunt, is die sentralisering van instellings, sogenaamd ter wille van beter bestuur. Die beleid skep afstand tussen instellings aan die een kant, en die gemeenskappe wat dit dien.

In teenstelling met sentralisering van die staat se stelsel, is private Afrikaanse instellings oor die afgelope jare met groot opoffering deur die gemeenskap self geskep.

Nadat mense belasting betaal het wat die departement en NSFAS finansier, dra hulle by om instellings soos Akademia, Soltech en Bo-Karoo Opleiding tot stand te bring.

Omdat dit nie maklik is om die fondse te mobiliseer nie, werk hierdie instellings versigtig daarmee. Daarom kon Soltech, met betaling van markverwante lone, ‘n hele kampus oprig en toerus teen die bedrag wat Gauteng se onderwysdepartement bestee het om skole wat leeg gestaan het, van die Covid-19-virus te reinig.

Terwyl die VF Plus die harde werk en toewyding van amptenare in die departement en personeel van universiteite en kolleges erken, stem die party teen hierdie begroting.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.