fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Begrotingsposdebat in parlement: Gesondheid – 13 Mei 2021

Daar is talle voorbeelde van die probleme in die land se hospitale en klinieke wat net voortduur en vererger:

Daar is ‘n tekort aan hospitale en klinieke, infrastruktuurprobleme, swak dienslewering, lewensnoodsaaklike operasies word nie gedoen nie, ‘n tekort aan dokters en verpleegpersoneel, internskap-plasings en -betalings, ‘n tekort aan medisyne, toerusting en water, die brandgevaar by hospitale en eise teen die departement wat R111 miljard beloop. Voeg daarby die reuse probleem met korrupsie wat soos ‘n kanker regdeur die departement versprei is.

Die tragiese gevolg hiervan is dat mense wat genees kan word, sterf weens die staat se onvermoë om iets aan die probleme te doen.

Ewe skokkend is die ouditeur-generaal (OG) se bekendmaking oor die verlies aan beskermende toerusting wat onder seile in die wind en die reën tot niet gegaan het weens bergingsprobleme. Dit is buiten die omvangryke bedrog wat plaasgevind het.

Koppe moet hieroor rol en die minister en al nege die provinsies se gesondheidshoofde sal voor die parlement se portefeuljekomitee hieroor moet verskyn.

Dit is ‘n skande dat seshonderd gesondheidswerkers weens Covid-19 moes sterf terwyl beskermende klere en toerusting buite gelê en vergaan het.

Dit is net nog ‘n sprekende voorbeeld van ‘n totaal onbevoegde regering.

Totdat die probleme nie opgelos word nie, sal elke sent van die miljarde rande wat aan die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bestee word, ‘n vermorsing wees.

Die regering moet ophou om die beskuldiging van “entstof-apartheid” na ander lande te slinger. Daar is verlede jaar geslaap met die onderhandelings vir die aankoop van entstof. AstraZeneca is toe halsoorkop aangekoop nadat ‘n nuwe variant van die virus reeds in die land uitgebreek het.

Die mate waartoe die publiek sy vertroue oor inenting deur die staat verloor het, word geïllustreer deur die feit dat slegs 840 000 uit sowat 5 miljoen mense van ouer as sestig hul geregistreer het vir inentings.

Net so is dit ‘n illusie dat 40 miljoen Suid-Afrikaners teen die einde van die jaar of vroeg aanstaande jaar ingeënt gaan word.

Daar is nou eers 430 000 uit 1,5 miljoen gesondheidswerkers ingeënt. Tog beloof die regering om almal binne twee weke te ent. Dit sal nie gebeur nie en dit is gevaarlik en onverantwoordelik om beloftes te maak wat nie nagekom kan word nie.

Die ANC-regering is nie in staat om die land se gesondheidsprobleme op te los nie. Hy misluk klaaglik met die inentingsprogram en die NGV sal net so groot mislukking wees.

Die oplossings vir hierdie probleme sal nou van buite die staat moet kom en die VF Plus sal enige werkbare, private inisiatiewe hieroor steun.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.