ʼn Beloofde R50 miljoen aan Kuba vir voedselnood en R22 miljoen vir ʼn vlag om nasiebou te bevorder: Goeie voorbeelde oor hoe uit voeling die ANC-regering is met die nood van Suid-Afrikaners.
Dít terwyl 40% van Suid-Afrikaners honger is en aan die amptelike definisie van honger voldoen. ʼn Skreiende skande.
Die hulp aan Kuba is tydelik met ʼn hofbevel van ʼn burgerregte-organisasie (AfriForum) gekeer. Die vlag-idee word ook hersien na hewige weerstand van die hele Suid-Afrika.
Die regering praat gereeld oor Afrika-eenheid, en die Afrika-Unie (AU) se vryhandelsooreenkoms. Samewerking en voedselsekerheid is gereeld op die agenda. Daar is selfs ʼn Afrikadag en -maand hiervoor ingeruim.
Wanneer woorde by dade moet kom, wys die ANC egter telkens dat hy historiese vriendskappe hoër ag as die kontinent. Totdat hierdie houding verander, sal ʼn debat oor voeding en voedselsekerheid in Afrika, vrugteloos wees. Om net oor kos te praat, sal geen honger maag vul nie.
Statistiek oor wanvoeding en honger in Afrika is skokkend. Chroniese blootstelling hieraan lei tot die voorkoms van verdwerging en uittering, veral in kinders onder vyf.
Dit kan ʼn lewenslange impak op die ontwikkeling van so ʼn persoon hê en is ʼn groot rede vir siekte en dood. In Suid-Afrika word een uit vier kinders hierdeur geraak.
In 2020 was 45.4 het miljoen kinders onder vyf wêreldwyd aan die gevolge van wanvoeding gely, waarvan 13.6 miljoen akuut ondervoed. ʼn Kwart hiervan is in sub-Sahara Afrika.
Luidens die 2021 Global Hunger Index is 22 uit 30 lande wat die ergste geraak word deur kosnood en wanvoeding, in Afrika.
In 2017 was konflik die vernaamste rede vir ʼn gebrek aan voedselsekerheid en honger in agtien lande. Sowat 74 miljoen mense is geraak; elf van dié lande en 37 miljoen mense van Afrika.
Die geskiedenis van hongersnood in Afrika lees soos ʼn rillerverhaal. Sedert die jare sestig is dit òf droogte òf oorlog òf vloede wat voedselsekuriteit in Afrika bedreig. Miljoene is dood as gevolg daarvan.
Op eie bodem is gesien wat die gevolge van ʼn natuurramp soos in KwaZulu-Natal is.
Dit het terselfdertyd gewys dat Suid-Afrika geen gestruktureerde stelsel in plek het om verligting te bring waar ʼn natuurlike ramp voedselsekerheid bedreig nie.
Te midde van natuurrampe en oorloë is daar nog ʼn faktor wat voedselsekuriteit in Afrika en veral Suid-Afrika bedreig.
Dit is die ANC en ANC-ideologie. Solank as wat die ANC regeer, sal daar nie voedselsekuriteit in Afrika of Suid-Afrika wees nie.