Mnr Wouter Wessels

Parlementslid

Mnr. Wouter Wessels is gebore in Oos-Londen en het aan die Hoërskool Grens as algemene Dux-leerling gematrikuleer. Hy het aan die Universiteit van die Vrystaat studeer waar hy 'n aktiewe rol in studentepolitiek gespeel het. Hy is reeds vir veertien jaar by die VF Plus betrokke.

Hy het as student die Universiteit van die Vrystaat by die internasionale Willem C. Vis Skynhof-kompetisie in Wene, Oostenryk verteenwoordig.

Hy is onlangs as een van Avance Media se 100 mees invloedryke jong Suid-Afrikaners aangewys.

Mnr. Wessels was voorheen nasionale jeugleier van die VF Plus, het as skakelbeampte vir die party by 'n distriksmunisipaliteit gewerk en was voorheen ook werksaam as die privaatsekretaris van die voormalige leier van die party, dr. Pieter Mulder. Voor hy voltyds die politiek betree het, het hy ‘n bemarkingsonderneming besit en bestuur.

Voordat mnr. Wessels in 2017 tot die parlement verkies is, het hy die party as 'n lid van die Vrystaatse wetgewer (LPW) gedien.

Hy is sedert 2013 ‘n lid van die uitvoerende dagbestuur van die party. Hy is die VF Plus se nasionale hoof van verkiesings en strategie en het as die veldtogbestuurder in die onlangse verkiesing opgetree.


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!